Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kinnear-moord: Oudrugbyspeler ondervra

’n Voormalige beroepsrugbyspeler van Springs aan die Gautengse Oos-Rand is Dinsdagaand deur Wes-Kaapse speurders wat die moord van lt.kol. Charl Kinnear (52) ondersoek, vir ondervraging ingeneem.

Die 39-jarige man, die seun van ’n afgetrede polisiekolonel, is glo die een wat die nasporing van Kinnear se selfoon gedoen het.

Bronne het Woensdag gesê die man, wat glo skuldinvordering van voertuiglenings vir banke doen, is daarna deur die speurders na ’n polisiekantoor aan die Oos-Rand geneem waar hy Woensdag tot in die vroeë oggendure ondervra is.

Lt.kol. Charl Kinnear Foto: Verskaf

’n Ander bron in Gauteng het Woensdag gesê dat die man nie voor ’n hof gebring is nie.

Die bron het ook gesê die man is nog nie aangekla nie. Hy het gesê die polisie het 48 uur voordat hulle die man hoef aan te kla. “Word hy aangekla, sal hy Vrydag in die hof verskyn,” het die bron gesê.

Die man wat vir ondervraging ingeneem is, doen glo die nasporing van selfoonseine om ekstra geld te verdien.

’n Onbekende man het hom glo gebel en gesê hy wil sy vrou se selfoon laat naspoor, het ’n bron aan Netwerk24 gesê.

Die bron het ook gesê die man sou hom nooit inlaat by iets waar ander mense sou seerkry en in dié geval vermoor word nie.

“Hy het gedink dis ’n jaloerse man wat sy vrou se bewegings wil dophou.” Hy het bygevoeg dat die man vir ’n familielid gesê het dat hy die selfoon baie keer nagespoor het.

Kinnear, ’n speurhoof by die teenbende-eenheid in die Wes-Kaap, is verlede Vrydag deur ’n onbekende man in ’n rooi kappietop voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, geskiet. Hy is meer as vyf keer getref en is op die toneel dood.

Dit was nie die eerste aanslag op Kinnear se lewe nie.

In November verlede jaar is ’n man in hegtenis geneem nadat hy met twee handgranate naby Kinnear se huis gekry is.

Kinnear en sy gesin is toe vir ’n tydjie deur die polisie beskerm, maar die beskerming is in Januarie 2020 onttrek. Die voorval van die man met die handgranate was presies ’n week nadat nog ’n Wes-Kaapse polisiebeampte, kol. André Kay, voor sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet is.

Word hy aangekla, sal hy Vrydag in die hof verskyn.

Daar is destyds bespiegel dat die mense wat Kay doodgeskiet het, die verkeerde polisiebeampte geteiken het.

Kay se woning is ’n paar strate weg van Kinnear se huis.

Kinnear het in Januarie 2019 in ’n beëdigde verklaring gesê dat hy vir sy lewe en dié van sy gesin vrees en het gevra dat van sy kollegas verbonde aan die Wes-Kaapse misdaadintelligensie-afdeling ondersoek moet word. Hy het toe aangevoer dat lede van misdaadintelligensie in privaat voertuie voor sy huis geparkeer staan en sy huis monitor. Die voertuie, het Kinnear glo uitgevind, behoort almal aan die misdaadintelligensie-afdeling.

Kinnear was glo bekommerd dat die beamptes hom of sy gesin leed kan aandoen.

Hy was ook die afgelope drie jaar aan die hoof van twee ondersoeke teen Nafiz Modack (38), een van die beweerde leiers in die Kaapse onderwêreld.

Die een saak was ’n voorval van afpersing waarin Modack, Colin Booysen, Jacques Cronjé en Ashley Fields glo probeer het om die bestuur van The Grand, ’n bekende Kaapse opelugrestaurant by die Kaapse Waterfront, vir beskermingsgeld af te pers.

Hulle is egter in die streekhof in Kaapstad onskuldig op al die aanklagte bevind.

Die ander saak wat Kinnear teen Modack ondersoek, is een waarin hy en 20 ander mense, wat insluit vuurwapenhandelaars en polisiebeamptes, in die landdroshof in Kempton Park verskyn het. Hulle staan tereg op aanklagte van bedrog en regsverydeling en aanklagte wat verband hou met oortredings van die Wet op Vuurwapenbeheer.

Kinnear is ook die ondersoekbeampte in die moord op adv. Pete Mihalik, ’n bekende Kaapse regsman wat in 2018 naby sy kinders se skool in Groenpunt, Kaapstad, vermoor is.

Mihalik se drie vermeende moordenaars moet op 26 Februarie 2021 in die hooggeregshof in Kaapstad in ’n voorverhoor verskyn.

Navrae oor die ondervraging is aan brig. Mulaudzi Hangwane, Valke-woordvoerder, gestuur. Hy het dit egter nie beantwoord nie.

Meer oor:  Charl Kinnear
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.