Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kinnear: Polisielede sê hul lewe word nou bedreig

Die einste polisie-eenheid wat veronderstel was om vas te stel wat die gevaar van doodsdreigemente was wat lt.kol. Charl Kinnear ontvang het, voer nou aan dat hul lewe bedreig word.

In ’n brief gedateer 2 Oktober 2020 vra genl.maj. Mzwandile Tiyo, hoof van misdaadintelligensie in die Wes-Kaap, vir werknemerbystand en beskerming vir vier polisiebeamptes in sy eenheid.

Genl.maj. Mzwandile Tiyo, hoof van misdaadintelligensie in die Wes-Kaap, wat gevra het vir polisiebeskerming vir hom en van sy lede. Foto: Argief

Volgens die skrywe wat aan lt.genl. Yolisa Matakata, Wes-Kaapse polisiehoof gerig is, word die lewe van brig. Sanjith Hansraj, kapt. Nadene Britz, ao. Riedwaan Titus en ao. Martin Titus bedreig.

Tiyo vra vir beskerming vir hulle totdat ’n risiko-evaluering wat deur ’n taakspan van die polisie se hoofkwartiere gedoen moet word, voltooi is.

Dit blyk egter dat Tiyo ook glo dat sy eie lewe in gevaar is.

In nog ’n skrywe, gedateer 8 Oktober, het brig. E. Borman, hoof van die polisie se bedryfsreaksiedienste in die Wes-Kaap, aan genl.maj. Mpumelelo Manci, adjunk-polisiekommissaris belas met polisiëring, geskryf dat daar vir die maand van Oktober persoonlike beskerming vir Tiyo gereël is.

Die rede daarvoor is glo weens ’n dreigement teen sy lewe.

Intussen is meer as 18 dae al verby sedert Bheki Cele, minister van polisie, op 19 September aan Kinnear se weduwee, Nicolette, gesê het dat hy ’n ondersoek gaan las om uit te vind hoekom haar man nie deur die polisie beskerm is nadat hy doodsdreigemente ontvang het nie.

Cele het toe belowe dat die ondersoek binne sewe dae afgehandel sal wees.

Charl Kinnear

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, het egter Dinsdag op ’n sitting van die portefeuljekomitee oor die polisie gesê dat Kinnear nooit formele polisiebeskerming gehad het nie, berig News24.

Sy antwoord kom op ’n vraag van Kenneth Meshoe, leier van die ACDP, oor wie Kinnear se beskerming onttrek het.

Sitole het gesê volgens die polisie se huidige beleid kan net die nasionale polisiehoof toestemming gee dat iemand se beskerming onttrek word.

Hy het gesê wanneer daar ’n dreigement is, word daar voorlopige beskerming aan die polisiebeampte gebied, terwyl misdaadintelligensie moet vasstel wat die graad van die gevaar vir die polisiebeampte se lewe is.

Sitole het lt.genl. Moeketsi Sempe, nasionale hoof van sigbare polisiëring, aangestel om die ondersoek te lei oor hoekom Kinnear nie beskerming gehad het nie.

Kinnear se vrou het intussen aan Daily Maverick gesê dat misdaadintelligensie nog nooit by hulle was om ’n evaluering van die risiko op haar man se lewe te doen nie.

Kinnear is op Vrydag 18 September voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, deur ’n onbekende man doodgeskiet.

Hy het voor sy huis in sy motor gewag vir sy seun om sy voertuig uit die oprit te trek sodat hy kon intrek. Hy is meer as vyf keer raakgeskiet, meestal in sy bolyf, en het op die toneel gesterf.

Ons is nog altyd van die mening dat, indien ’n bedreiging werklik sou wees, dit ernstige gevolge kan hê.

Kinnear, tot met sy dood speurhoof van die Wes-Kaapse bende-eenheid, was ook hoof van ’n ondersoek na die onwettige uitreiking van vuurwapenlisensies by Gautengse polisiekantore.

Nafiz Modack (39) vermeende rolspeler in die Kaapse onderwêreld, is een van die mense wat vroeër vanjaar in verband met die ondersoek in hegtenis geneem is. Modack het Woensdag in die landdroshof in Kempton Park in verband met die saak verskyn.

Intussen verskyn Zane Kilian, wat op 22 September deur die polisie by sy huis in Springs aan die Oos-Rand in hegtenis geneem is, weer Vrydag in die landdroshof in Bishop Lavis.

Hy is die man wat na bewering die afgelope paar maande Kinnear se selfoonseine nagespoor het.

Hy staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en die onwettige onderskepping van kommunikasie.

Intussen het brig. Vish Naidoo, Sitole se woordvoerder, gesê dat Sitole Dinsdag aan die portefeuljekomitee genoem het dat hy ’n voorlopige verslag met betrekking tot die ondersoek na Kinnear se beskerming ontvang het.

“Ek kan egter bevestig dat die nasionale kommissaris intussen die finale verslag met sekere aanbevelings waarop hy gaan reageer, ontvang het. Ons gaan egter nie sê watter optrede gaan volg nie, omdat dit die proses in die wiele kan ry,” het Naidoo gesê.

Daar sal later meer besonderhede gegee word.

Naidoo het by navraag gesê dat die polisie as ’n reël nie die beskerming van enige persoon, hetsy ’n polisielid of enige ander individu, bespreek nie.

“Ons is nog altyd van die mening dat, indien ’n bedreiging werklik sou wees, dit ernstige gevolge kan hê.”

Meer oor:  Charl Kinnear  |  Polisielede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.