Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kinnear se selfoonseine Vrydag uit Gauteng nagespoor

Seine van lt.kol. Charl Kinnear (52) se selfoon is Vrydag vanuit ’n dorp aan die Oos-Rand in Gauteng nagespoor.

Betroubare bronne sê die Valke se ondersoek na wie moontlik agter Kinnear se moord sit, het hulle na lede van misdaadintelligensie in Gauteng gelei.

Netwerk24 het Saterdag berig dat Kinnear se selfoon vir weke voor sy moord op selfoonmaste nagespoor is om sy bewegings dop te hou. Vrydag het die nasporing van sy selfoonsein kort ná 08:00 begin. Dit is gestaak kort voordat hy by sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, deur ’n gemaskerde man in ’n rooi kappietop doodgeskiet is.

Kinnear het toe pas voor sy huis stilgehou. Hy is vermoedelik meer as vyf keer raakgeskiet – meestal in sy bolyf – en is op die toneel dood.

Lt.kol. Charl KinnearFoto: Verskaf

’n Bron het Saterdag gesê die Valke het die inligting oor die nasporing van Kinnear se selfoon kort ná die sluipmoord aan sy bevelvoerder, genl.maj. André Lincoln, oorgedra.

Daar is toe gesê dat ook Lincoln se bewegings deur sy selfoonseine nagespoor is. Dit was glo nie die eerste keer dat Kinnear se bewegings deur sy selfoon gevolg is nie.

Daily Maverick het Maandag berig Kinnear se selfoonseine is vanaf Mei 2020 tot Vrydag altesaam 2 116 keer nagespoor. Lincoln se selfoon is glo meer as 40 keer nagespoor.

Intussen het inwoners van Bishop Lavis gesê dat Kinnear se moordenaar beslis nie van Bishop Lavis is nie.

Inwoners het gesê hulle vermoed dat die man wat Kinnear Vrydag koelbloedig voor sy huis in Gearingstraat doodgeskiet is, met ’n Uno in die gebied afgelaai is.

Kinnear het verlede Saterdag uit Gauteng teruggekom waar hy ’n week deurgebring het as deel van sy ondersoek teen ’n sindikaat wat verantwoordelik is vir die onwettige uitreiking van vuurwapenlisensies.

Daar is reeds 19 mense, insluitend Nafiz Modack, ’n vermeende rolspeler in die Kaapse onderwêreld in verband met die smokkelnetwerk, in hegtenis geneem. Ander mense wat saam met Modack in hegtenis geneem is, is van sy familielede, polisiebeamptes en vuurwapenhandelaars.

Inwoners het die Uno met drie of vier ander insittendes later in die omgewing van ’n speelpark, wat aan Concorde- en Sidneyvalestraat grens, gesien waar dit geparkeer was.

Daar is ook gesê dat Kinnear se moordenaar ’n hele tydjie in die omgewing en in sy straat gesien is. Die man het glo ’n hele paar keer in die straat op en af geloop en het ook vir kinders wat in die straat gespeel het, gevra of die honde, wat ook in die straat was, gaan byt.

Kinnear is kort ná 15:00 Vrydag voor sy huis doodgeskiet.

Inwoners het gesê dat Kinnear se oudste seun, Carlisle Kinnear (24), sy pa se moordenaar in sy motor agterna gesit het. Dié het te voet van die toneel gevlug. Hy is glo in Belvederesirkel gesien hardloop, tot in Sidneyvalestraat waar dit by Concordestraat aansluit, waar dit vir mense gelyk het of hy na iets of iemand soek. Hulle vermoed dat hy na die Uno gesoek het.

Hy het daarna teruggedraai in Sidneyvalestraat, gehardloop tot waar dit by Belvederesirkel aansluit. Hier het hy weer tot in Concordestraat gehardloop tot waar dit by Sidneyvalsestraat aansluit. Op die hoek van Sidneyvale- en Marshstraat het hy regs in Marsh gedraai en vandaar tot by Weststraat gehardloop waar hy links gedraai en vermoedelik 35ste Laan gekruis het en in die Malawi- informele nedersetting verdwyn het.

Intussen het die Bishop Lavis-gemeenskapspolisiëringsforum aangekondig dat hulle Donderdag ’n opelug-roudiens ter nagedagtenis van Kinnear in Gearingstraat gaan hou. Dit begin om 16:00. “Kom ons wys as gemeenskap ons liefde vir sy familie en kollegas,” het die GPF gesê.

Niemand is nog in verband met Kinnear se dood in hegtenis geneem nie.

Brig. Hangwani Mulaudzi, Valke-woordvoerder, het gesê die ondersoekspan werk dag en nag aan die ondersoek en dat hulle hoofdoel is om die mense agter die sluipmoordaanval op Kinnear agter tralies te kry.

Navrae oor hoekom misdaadintelligensie Kinnear se selfoonseine sou naspoor, is na brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, gestuur.

Volgens hom word die saak deur die Valke ondersoek en sal daar nie nou kommentaar gelewer word nie. “Ons moet die ondersoek nou sy gang laat gaan,” het Naidoo gesê.

Meer oor:  Bishop Lavis  |  Valke  |  Charl Kinnear
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.