Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kirkwood se mense betoog nadat 2 vroue vermoor is
Gemeenskapslede van Kirkwood wat in swart geklee is, stap Vrydag in ’n optog teen geslagsgeweld nadat twee vroue binne ’n week hier vermoor is. Foto: Lulama Zenzile

Meer as 200 mense het Vrydag geregtigheid geëis vir twee vroue wat na bewering binne ’n week deur mans na aan hulle in Kirkwood in die Oos-Kaap vermoor is.

Gemeenskapslede en ander belanghebbendes uit verskeie sektore van die dorp het Vrydag ’n optog teen geslagsgeweld na die Sondagsriviervallei-munisipaliteit gehou.

Zusiphe Mtirara, munisipale woordvoerder, het gesê die distrik het die afgelope tyd ’n toename in geslagsgeweld ondervind. Die onlangse moorde op die twee vroue het die gemeenskap opnuut geruk.

Netwerk24 het vroeër berig dat Bulelwa Ndawo op 25 April, ’n dag voor haar 24ste verjaardag, voor ’n taverne in Kirkwood omgery is. Haar vriend is op ’n klag van moord in hegtenis geneem.

Presies ’n week later het die vriend van Gcobisa Klaas haar na bewering in Kirkwood met ’n mes doodgesteek.

Mtirara het gesê dit sou verkeerd wees om alkohol of ander faktore vir die geslagsgeweld te blameer “omdat dit ’n gewelddadige mens neem om ’n ander te mishandel of te vermoor”.

Met plakkate en ’n Suid-Afrikaanse vlag het mense die strate van Kirkwood aangedurf om teen geslagsgeweld te betoog. Foto: Lulama Zenzile

“Ons het besluit dat ons weer bewusmakingsveldtogte moet hou en ’n beroep moet doen dat meer by hierdie voorvalle ingegryp moet word,” het sy gesê.

Edmund van Vuuren, LPW en DA-leier in die Zuurberg-distrik wat ook aan die optog deelgeneem het, het gesê langtermynplanne om vroue en kinders te beskerm moet dringend geïmplementeer word.

Volgens hom het die moordsyfer teen vroue gedurende die eerste kwartaal van die 2020-’21-boekjaar met 17% in die provinsie gestyg.

“Ons vroue en kinders word verkrag en vermoor. Hulle is nie veilig in hul huise nie. Hulle is nie veilig in hul gemeenskappe nie. Die meerderheid van ons vroue en kinders word hul grondwetlike regte op vryheid en veiligheid ontneem,” het hy gesê.

Van Vuuren het onderneem om weer eens vrae aan Siphokazi Mani-Lusithi, die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, oor die implementering van doelgerigte strategieë teen geslagsgeweld te rig.

’n Versoekskrif waarin geregtigheid en ingryping teen geslagsgeweld geëis word, is Vrydag by die landdroshof in Kirkwood oorhanding. Foto: Lulama Zenzile

Meer as 200 deelnemers aan die optog het ’n versoekskrif onderteken en dit by die plaaslike landdroshof aan die polisie en die owerhede oorhandig. Hulle eis dat die plaaslike owerhede teen die vlaag van geweld teen vroue ingryp en dat Klaas en Ndawo se moordenaars vervolg word.

Mtirara het gesê die polisie het die gemeenskap versoek om hierdie sake by die polisie aan te meld.

Sers. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, het nie onmiddellik op navrae oor enige deurbraak in die moord op Klaas gereageer nie.

Meer oor:  Kirkwood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.