Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kitsbank se mure afgebreek
Die toneel in Motherwell, Port Elizabeth, waar inbrekers glo die beskermingsmure van ’n kitsbank afgebreek het en geld gesteel het.

Die beskermingsmure rondom ’n kitsbank in Port Elizabeth is Dinsdagaand glo deur inbrekers afgebreek, voordat duisende rande gebuit is.

Konst. Mncedi Mbombo, polisiewoordvoerder, sê dit blyk of ’n groep inbrekers deur die Usave-winkel in Motherwell se dak toegang tot die kitsbank verkry het.

“Ons vermoed dit was ’n groep wat saamgewerk het, aangesien een of twee mense nie alleen die soort skade binne die winkel kon aanrig nie,” sê Mbombo.

Hy sê die mure rondom die kitsbank is vermoedelik met gereedskap soos grawe en byle oopgebreek.

“Die skade aan die mure en kitsbank is van so aard dat ons aanvanklik geglo het plofstof is gebruik om die mure oop te breek.”

Maar ná ’n ondersoek deur polisiebeamptes van die plofstofeenheid is vasgestel dat geen plofstof gebruik is nie.

Mbombo sê dit is onduidelik hoe laat die voorval plaasgevind het, aangesien die polisie eers vroeg Woensdagoggend gekontak is toe ’n werknemer die winkel oopsluit.

“Geen alarm het gedurende die inbraak afgegaan nie en die veiligheidsmaatskappy het vanoggend bevestig dat die alarm nie aangeskakel was nie,” sê Mbombo.

By navraag het Mbombo gesê hy gaan nie kommentaar lewer op die moontlikheid dat die inbraak in samewerking met ’n werknemer van die winkel plaasgevind het nie.

“Die ondersoek het pas begin en ons sal natuurlik alle moontlikhede ondersoek, asook die rede waarom die alarm nie aangeskakel was nie.”

Niemand is teen Woensdagoggend vir die misdaad aangekeer nie.

Die voorval van Dinsdagaand is minstens die vierde voorval die afgelope drie maande waartydens ’n kitsbank in Nelson Mandelabaai in rowers se visier was.

Hoewel plofstof grootliks in die vorige voorvalle gebruik is om toegang tot die geld te kry, sê Mbombo die moontlikheid dat al die voorvalle verband hou, word ondersoek.

“In dié stadium kan ons nog nie met sekerheid sê al die voorvalle hou verband nie, aangesien ons nie genoeg bewyse vir die vermoede het nie. Die polisie het ook nog niemand vir enige van die vorige voorvalle in hegtenis geneem nie,” sê Mbombo.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Motherwell  |  Kitsbank  |  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.