Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Klagte ingedien teen polisielede wat glo drank vat

Ondersoek moet ingestel word na die optrede van polisiebeamptes wat verantwoordelik was vir duisende rande se drank wat weggeraak het ná ’n voorval by die sportkroeg en restaurant Hennie’s in Moreleta Park, Pretoria.

AfriForum se private vervolgingseenheid het Woensdag strafregtelike klagte van bedrog en diefstal by die Garsfontein-polisiekantoor ingedien teen die polisiebeamptes wat betrokke is.

Die eenheid verteenwoordig Werner Pretorius, franchise-eienaar van die restaurant.

Netwerk24 het vroeër berig dat twee kliënte op Vrydag 22 Januarie drankies bestel het. Hulle is meegedeel dat geen drank verkoop word nie.

Hulle het toe alkoholvrye bier en jenewer bestel en gevra: “Make it nice.”

Atrayo Nolte, restaurantbestuurder van Hennie’s, het vroeër by die restaurant aan Netwerk24 vertel hoe hy in hegtenis geneem is omdat hy drank aan kliënte sou verkoop het. Foto: Deaan Vivier

Die drankies is skaars voorgesit of twee polisiemanne het verskyn en wou weet: “Waar is die drank?”

Hulle het ook aan die kliënte se drankies gaan ruik en was oortuig daarvan dat dit alkohol bevat. Derhalwe het hulle op die restaurant se voorraad beslag gelê. Hulle het net op vol bottels drank beslag gelê, asook op nie-alkoholiese drankies “vir toetse”.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid, het op ’n nuuskonferensie in Pretoria gesê die polisiebeamptes het onregmatig en irrasioneel opgetree.

Die polisie het Atrayo Nolte, restaurantbestuurder, ook onregmatig in hegtenis geneem. Nolte moes saam met hulle na die polisiekantoor gaan om glo ’n verklaring te onderteken, waarna hy in hegtenis geneem en eers agt uur later op borgtog van R2 000 vrygelaat is.

Hy is daarvan beskuldig dat hy alkohol aan kliënte bedien het terwyl die verkoop daarvan in daardie stadium deur die inperkingsregulasies verbied is.

Die drankvoorraad, ter waarde van R112 000, is eers dae later terugbesorg, selfs nadat die nasionale vervolgingsgesag alle klagte teen Nolte laat vaar het.

Pretorius het bevestig dat bottels wyn en rum weg is. Van die bottels duur whiskey se inhoud is met tee vervang.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid. Foto: Brumilda Swartbooi

Al was Pretorius verheug dat hy die meerderheid van sy voorraad teruggekry het, wroeg hy steeds oor die polisie se optrede.

“Almal het vir ons gesê dit is maar hoe die polisie maak, maar dit is juis hoe hulle nié te werk moet gaan nie,” sê Pretorius. Hy hoop die ondersoek sal sake regstel sodat soortgelyke magsmisbruik in die toekoms verhoed kan word.

Intussen het hy ook sy prokureur opdrag gegee om voort te gaan met ’n siviele eis teen die polisie.

Volgens Nel is dit die soveelste geval van polisiemagsmisbruik waarby sy eenheid moes ingryp.

“Verskeie slagoffers het ons nou al om hulp genader nadat hulle onregverdig en onbillik deur die polisie behandel is. Wat uiters skokkend is, is dat dit nie lyk of daar enige gevolge is vir polisiebeamptes wat hulle skuldig maak aan misdadige optrede nie en dit kan nie geduld word nie,” sê Nel.

Meer oor:  Afriforum  |  Ondersoek  |  Drank  |  Polisiebeamptes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.