Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kleinhoewe-aanval: 6-jarige het alles gesien

Jonty Jacobs (28) wat Woensdag in ’n plaasaanval op Leeuwfontein naby Roodeplaat in Pretoria raakgeskiet is, reageer al as mense met hom praat.

“Dit gaan beter met hom. Hy reageer as mense met hom praat deur sy arms te beweeg, maar hy is nog nie uit die gevaarsone nie,” sê Doreen Lubbe, sy verloofde.

Sy sê Jacobs is een keer in die bolyf geskiet en die koeël is deur een van sy longe. Daar is vroeër berig dat hy meer as een keer getref is.

“Sy rug en sy longe het baie seergekry en hy haal nog nie self asem nie.”

Jonty Jacobs Foto: Facebook

Jacobs is in die waakeenheid van die Steve Biko- akademiese hospitaal.

Lubbe sê Jacobs het haar Woensdag omstreeks 02:00 wakker gemaak en vir haar gesê om sy pa, Danie, te bel omdat daar mense op die erf was.

“Die volgende oomblik het hy opgestaan en gesê hy sal my en sy sesjarige dogtertjie se lewe beskerm. Ek kon dit nie glo nie, dit het soos ’n storie afgespeel.”

Jacobs het ’n geraas in ’n ander deel van die huis gehoor en uit die slaapkamer gehardloop.

“Dit was sekondes voor ek ’n geweerskoot gehoor het. Alles het so vinnig gebeur.”

Volgens Lubbe het Jacobs se dogter op hom afgekom waar hy op die vloer gelê het.

Drie mans het twee selfone en ’n televisie gesteel voordat hulle te voet gevlug het.

“Dit is al wat hulle gevat het terwyl daar baie meer goed was wat hulle in die huis kon steel. Daar was iPhones en skootrekenaars wat hulle net so gelos het,” sê Lubbe.

Jacobs is kort ná die voorval na die hospitaal gehaas.

“Selfs die dokters sê dis ’n wonderwerk dat hy nog leef. Hy het baie bloed verloor. Hy is ’n regte fighter.”

Danie, Jacobs se pa, sê dit gaan onder omstandighede goed met sy kleindogter, wie se naam op versoek van die familie weerhou word.

Doreen Lubbe en Jonty Jacobs Foto: Facebook

Hy sê die meisie verstaan wat met haar pa gebeur het.

“Sy het alles gesien gebeur, het uit ’n beradingsessie geblyk. Sy kon vir die berader alles vertel wat gebeur het.”

Die meisie bly nou by haar oom en sy gesin. Danie sê sy het Donderdagoggend ’n foto van haarself vir haar ouma gegee. “Sy het gevra dat ons dit vir haar pa in die hospitaal vat.”

Danie sê die meisie sal nog berading kry.

“Dis nie sommer iets wat gesond gemaak kan word nie. Sy het gelukkig nie fisiek seergekry nie. Dit is so ’n sinnelose daad.”

Danie sê die hele familie, maar veral Lubbe, is nog “baie emosioneel” ná die voorval. Jacobs en Lubbe het onlangs verloof geraak.

“Dit is soos ’n rollercoaster wat hier binne jou aangaan.”

Sers. Portia Maleka, polisiewoordvoerder, sê niemand is teen Donderdagmiddag in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.

Sy het vroeër gesê die polisie ondersoek ’n klag van huisroof en poging tot moord.

Maleka doen ’n beroep op enigeen met inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die rowers om die Kameeldrift-polisiekantoor te bel by 012 819 8200.

Meer oor:  Jonty Jacobs  |  Plaasaanvalle  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.