Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Klippe in pad: Moordklag ná Welkomse sakeman sterf

’n Moordklag is by die Welkomse polisie aanhangig gemaak nadat die eienaar van die Letswalo-veiligheidsmaatskappy Vrydagaand dood is in ’n ongeluk wat veroorsaak is deur twee stelle klippe wat oor ’n pad gepak was.

Wyle Martin Ackerman (42) en sy vrou, Tracey (32).Foto: Verskaf

Die ongeluk was op die Bronville/Masimongmyn-pad.

Martin Ackerman (42) is op slag dood. Sy vrou, Tracey (32), ly aan erge skok ná die ongeluk waarin sy lig beseer is.

Tracey sê ses veiligheidswagte wat agterop die bakkie was, is in die Bongani-hospitaal vir beserings en skok behandel nadat die bakkie verskeie kere gerol het. “Maar almal is reeds ontslaan.”

Sy sê sy en haar man was besig om die beamptes by hul huise af te laai.

“Daar was skielik klippe voor ons op die Bronville/Masimongmyn-pad. Ons dink die klippe word op die pad gepak om mense te beroof. Daar was boonop beurtkrag en dit was pikdonker.

“Martin kon nie vir die eerste stel klippe uitdraai nie en ons het regoor hulle gery. Hy het half beheer oor die bakkie verloor, maar weer beheer gekry. Nét hierna was daar ’n tweede stel klippe waarteen die bakkie gebots het. Die bakkie het omgeslaan en verskeie kere gerol.”

Tracey sê die bakkie het op sy dak tot stilstand gekom.

“Ons was vasgekeer. Ek het met Martin gepraat en aan hom gestamp. Hy was doodstil.”

Sy sê sy het om hulp geroep na die beamptes agterop die bakkie nadat sy hulle hoor praat het, maar hulle kon haar nie hoor nie.

Ek het al my kragte bymekaar geskraap om my gesig onder hom uit te kry. Ek het vir die omstanders geskree dat ek besig was om te versmoor.

“Ek het hierna my swaer, Frans Muller, gebel en hom gevra om dringend die nooddienste te ontbied.

“Omstanders het die bakkie op sy wiele probeer tel, maar kon dit net tot op die sykant draai, waarna Martin bo-op my geval en ek byna versmoor het.

“Sy warm bloed het asof uit ’n kraan warmwater oor my gestroom.

“Ek het al my kragte bymekaar geskraap om my gesig onder hom uit te kry. Ek het vir die omstanders geskree dat ek besig was om te versmoor.

“Hulle het hom aan sy voete by die voorruit uitgesleep en my hierna uitgetrek. Ek het langs Martin neergeval en hom op sy sy gedraai sodat hy kon asemhaal as hy nog geleef het. Ek wou hom wakker maak. Maar daar was niks.”

Sy sê Shepherd Alarms en haar swaer het hierna opgedaag.

“Ek het weer die ambulans gebel, wat vyf minute later opgedaag het. Die ambulansman het Martin dood verklaar. Die stuurwiel het hom hard teen sy borskas getref. Daar was ook ’n gapende wond aan sy agterkop.

“ ’n Lykskouing gaan nou gedoen word. ’n Moordklag is by die polisie se Thabong-kantoor ingedien,” sê Tracey.

“Ons sal Maandag die saaknommer kry.”

Sy sê die ongeluk het omstreeks 20:15 gebeur, maar die polisie het eers vier uur later opgedaag. Hulle moes die hele tyd met die lyk langs die pad wag.

Die polisie het aan hulle verduidelik dat hulle nie genoeg voertuie tot hul beskikking gehad het nie.

Martin word ook oorleef deur twee kinders uit ’n vorige huwelik, sy pa, Martiens Ackerman, en ’n suster, Joan Holtzhausen.

* Kapt. Malebo Khosana, Thabong-polisiewoordvoerder, sê hy stel verder ondersoek in na die saak.

Meer oor:  Welkom  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.