Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Klippe tref pasgetroudes se kar, maar hulle durf nie stop

“Dis Suid-Afrika. Die ergste is dat ons nie spesiaal is dat dit met ons gebeur het nie – so baie mense in die land beleef trauma oor sulke goed.”

Lauren Genlloud sê sy sal dit maar net moet verwerk dat sy, haar man, Richard, en hul vriend Brendyn Lotz amper ernstig beseer is toe ’n groep mans hul bewegende motor van ’n brug af met groot klippe bestook het.

Die motor nadat klippe dit getref het. Foto: Foto: Verskaf

Die drie reisigers was Woensdag in die vroeë oggendure op die N1 op pad terug na Johannesburg nadat Genlloud en Richard Saterdag in Sedgefield, in die Wes-Kaap, getrou het.

In die omgewing van Orange Farm in Gauteng kon Genlloud ’n groep mans sien wat langs mekaar op ’n brug oor die hoofweg staan.

“Nog voordat ek iets kon sê, het ons gehoor hoe die klippe die kar tref. Die een klip het die onderkant van die voorruit getref en dit soos ’n spinnerak laat kraak. Die ander klip is deur die enjinkap en nog een het die voorste linkerband pap gelaat.”

Volgens haar het Richard, wat bestuur het, koelkop gebly en aangehou ry.

“Ek het al so baie stories gehoor en ek dink ons almal het geweet ons moenie stop nie. Die kar het teen 10 km/h aangesukkel en het verskriklike geluide gemaak,” sê Genlloud.

Een van die klippe het die onderkant van die voorruit getref. Foto: Verskaf

Volgens haar het ’n man in ’n Ford Ranger-bakkie, wat die voorval voor sy oë gesien afspeel het, langs hulle stilgehou. ’n Ent verder was daar nog ’n motor langs die pad wat deur ’n klip getref is.

“Ons het ’n insleepdiens gebel, maar die bestuurder was aanvanklik te bang. Ons het gereël dat hy ons by die Grasmere-tolhek kry. Toe het ons die wiel omgeruil en verder gery totdat die enjin nie verder kon nie,” sê Genlloud, wat heeltyd bly bid het.

Sy en Richard was Woensdagmiddag by die Honeydew-polisiekantoor om ’n saak oop te maak. Hulle vlieg Donderdag Rusland toe vir hul wittebrood.

“Ons leef en dit is die belangrikste. Ek het op die oomblik gedink ek gaan my man en alles verloor.

“Ek het al gesien hoe ’n kaping voor my oë gebeur en die nagevolge bly jou by. Ons gaan nou weggaan en kalm probeer bly en dan alles verwerk wanneer ons terug is. Ek weet nie wat anders om te doen nie.

“Dis Suid-Afrika. Soveel mense hier het trauma.”

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Sedgefield  |  Johannesburg  |  Trauma  |  Kar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.