Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Klopjag misluk ná ‘vertrouensbreuk’

Die hoof van die Wes-Kaapse bende-eenheid pak die skuld van die eenheid se mislukte klopjag op ’n bendehuis – waarin vyf polisiemanne gewond is – op vier senior offisiere wat teen sy wil na die eenheid gesekondeer is. In ’n verslag oor die fiasko, wat Rapport onder oë gehad het, skryf genl.maj. André Lincoln dat Woensdagoggend se operasie sonder sy medewete en goedkeuring beplan en uitgevoer is.

Lt.genl. Khombinkosi Jula, Wes-Kaapse polisiekommissaris

Die middernagtelike operasie is van stapel gestuur ná inligting dat twee van die drie verdagtes wat vroeër die week in ’n bendeverwante skietery in Delft betrokke was, in die Samora Machel-plakkerskamp in Philippi skuilhou. Die verdagtes het egter met ’n outomatiese geweer op die polisiemanne losgebrand en vyf van die sewe polisielede is gewond. Hulle is konstabels Freddie Florence, Andries Diniso, Byron Diedericks en Edwell le Grange, asook sers. Frederick Lodewyk.

Lincoln skryf in die verslag, wat aan die Wes-Kaapse polisiekommissaris, lt.genl. Khombinkosi Jula, oorhandig is, dat ’n vertrouensbreuk ontstaan het tussen hom en die vier senior offisiere (drie kolonels en ’n brigadier) wat by die operasie se beplanning betrokke was. Hy vra Jula om die vier offisiere uit die eenheid te verwyder. Lincoln skryf ook dat hy met dissiplinêre stappe teen die offisiere gaan begin.

Die Burger het gister berig dat die offisiere almal ’n maand of twee gelede sonder Lincoln se medewete deur Jula na die bende-eenheid ontplooi is. Dit, beweer die koerant, was ’n poging van Jula om gedeeltelike beheer van die bende-eenheid te kry.

Lincoln sê ’n sersant is in beheer van die operasie geplaas, pleks dat een van die offisiere wat die operasie beplan het, self bevel oorgeneem het.

Volgens Lincoln se verslag was daar geen operasionele plan nie en is nie een van die gespesialiseerde eenhede – soos die nasionale intervensie-eenheid of die taktiese reaksiemag, betrek nie.

Lincoln skryf verder dat die verdagtes wat in die operasie gesoek is, nie deur die bende-eenheid ondersoek word nie, en dat dit dan nie die eenheid se mandaat was om die operasie uit te voer nie.

Die bende-eenheid, wat onder groot fanfare in November deur pres. Cyril Ramaphosa bekend gestel is, se bekwaamheid word deur verskeie groepe, polisiebeamptes en gemeenskapspolisiëringsforums bevraagteken.

Dalli Weyers, die Social Justice Coalition se hoofnavorser, sê die polisiekantore wat in die gemeenskappe is, sit nou met minder hulpbronne.

Volgens Weyers het dit selfs ’n impak op die bende-eenheid se effektiwiteit, want die polisiekantore is onbevoeg om die nodige bystand aan die bende-eenheid te lewer.

“Die polisie is veronderstel om seker te maak dat sy hulpbronne verbeter, nou word dit nie eens op ’n gelyke vlak gehandhaaf nie.”

Sowat 200 polisielede is ná die aanval in Philippi ontplooi. Die buurt is blok vir blok, huis vir huis deursoek, maar slegs een verdagte is teen druktyd in hegtenis geneem nadat hy in ’n hospitaal in die Paarl met ’n skietwond opgespoor is.

Die 42-jarige Florence is steeds in ’n kritieke toestand in die Gatesville Melomed-hospitaal. Lodewyk is in sy bene geskiet. Hy het gister aan Rapport gesê die operasies was suksesvol.

Twee ander kollegas wat ook in die aanval gewond is, is reeds uit die hospitaal ontslaan.

Meer oor:  Klopjag  |  Polisie  |  Bendes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.