Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Knopkierie-video: ‘Dit was selfverdediging’

’n Boer van Schweizer-Reneke in Noordwes het homself net verdedig teen ’n “betreder” toe hy dié man met ’n knopkierie bygedam het.

So sê ’n naby-kennis van die boer wat nie sy of die boer se naam wil noem nie uit vrees vir viktimisering.

Dít nadat ’n video van die boer wat Deon Tshepiso Tlhabanelo op 1 Junie met ’n knopkierie op sy plaas bydam, opslae op sosiale media gemaak het.

Tlhabanelo en sy ma het daarna klagte van aanranding teen die boer en sy seun ingedien, maar die boer het op sy beurt klagte van betreding en aanranding teen Tlhabanelo aanhangig gemaak, het brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes, gesê.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar hulle moet almal op 25 Junie die eerste keer in die landdroshof in Schweizer-Reneke verskyn.

north west
'n Skermgreep uit die video. Foto: News24

Die polisie het nie die boer se naam bekend gemaak nie omdat hy nog nie in die hof verskyn het nie.

Die boer se vriend sê Tlhabanelo het die plaas betree deurdat hy die betrokke Saterdagmiddag by ’n veiligheidshek wat toe was, ingekom het.

“Ons het ook videomateriaal wat nooit gepubliseer is nie, wat wys hoe die man die boer aanrand. Die boer moes daarna ’n operasie aan sy gebreekte hand ondergaan.”

Netwerk24 het dié video gesien.

Tlhabanelo, ’n vragmotorbestuurder in Noordwes, het aan News24 vertel hy gaan gereeld na die betrokke plaas om skape te koop. Volgens hom was die plaashek oop toe hy die dag van die voorval weer soontoe is om skape te gaan koop. Sy ma en twee kinders was saam met hom in die voertuig.

Die boer se seun het glo al skreeuend en swetsend op sy voertuig afgestap. Hy wou na bewering weet wat hulle op die plaas soek.

Volgens Tlhabanelo het die eienaar van die plaas toe opgedaag, maar hom glad nie herken nie.

“Hy het gevra hoe ons ingekom het omdat hy geglo het die hek was toe, maar ons het verduidelik dit was oop.” Dis glo tydens dié gesprek dat die boer Tlhabanelo aangerand het. Die seun het glo ook Tlhabanelo se ma geklap. Die boer het glo ’n wapen op Tlhabanelo en sy familie gerig.

Volgens Tlhabanelo het hy sy vinger gebreek en het hy kneusplekke op sy kop. Sy ma het glo minder ernstige beserings aan haar been, het News24 berig.

Die boer se vriend het Dinsdag gesê hulle vermoed die voorval word vir politieke gewin skeefgetrek. “Hoekom is net dele van die gebeure verfilm en hoekom het hulle uit die staanspoor ’n video gemaak?”

Die vriend sê die boer verkoop wel skape, maar die plaashekke word Saterdae ná 12:00 gesluit.

“Ons vermoed ’n gesteelde afstandbeheerder is gebruik om later die Saterdag toegang tot die plaas te kry.”

Noordwes is een van die provinsies in die land met die hoogste voorkoms van plaasaanvalle. Elsa Erasmus (74) is in Julie 2017 op haar plaas in die Schweizer-Reneke-distrik verkrag en doodgeskiet. Haar moordenaars is in 2018 elk meer as 50 jaar tronkstraf opgelê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.