Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kodwa kry R180 000; dis tussen ‘vriende’

’n Maatskappy wat by die beweerde asbesplunderskema in die Vrystaat betrek word, het R180 000 aan Zizi Kodwa, adjunkminister van staatsveiligheid, betaal.

Kodwa het die afgelope week bevestig hy het die geld van Blackhead Consulting ontvang, maar sê dis ’n saak tussen “vriende”. Volgens hom het hy en Edwin Sodi, uitvoerende hoof van Blackhead, in 2015 vriende geword.

City Press, Rapport se susterkoerant, het inligting gesien dat Kodwa die geld in agt betalings tussen einde 2015 en vroeg 2017 ontvang het.

Hy wou nie sê waarvoor dit was nie, maar het gesê hy het destyds in die ANC-hoofkwartier, Luthuli-huis, gewerk en het geen invloed gehad oor wie staatstenders kry of daaruit voordeel trek nie. Dit blyk Sodi het ook geld aan die ANC geskenk.

Die asbesprojek het behels dat ’n oudit gedoen word van wonings met asbes in hul dak sodat dit ter wille van die bewoners se veiligheid verwyder kon word. Uiteindelik is net R21,3 miljoen van die R230 miljoen wat aan die hoofkontrakteur betaal is, vir die Vrystaatse asbesoudit gebruik, het die openbare beskermer bevind.

Ondersoeke toon Ace Magashule, destyds premier van die Vrystaat en nou sekretaris-generaal van die ANC, was moontlik die baasbrein daaragter.

Daar hang nou ’n vraagteken oor Kodwa se vermoë om sy hoogs sensitiewe werk te doen terwyl hy moontlik in so ’n omstrede maatskappy se sak is.

Maar Kodwa het teruggekap en gesê daar is baie leesstof wat wys korrupsie en begunstiging-netwerke het ’n norm in die Vrystaat geword en “dis alombekend wie die regte spilfigure is”.

“Ek het mnr. Edwin Sodi eers in 2015 leer ken?.?.?. daarom is dit ’n klassieke voorval van whataboutism om my naam te gebruik en ’n lomp verskoning van diegene wat nie verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid wil aanvaar nie. Hul strategie is om aanspreeklikheid en tronkstraf tot elke prys te vermy. Maar dit is onvermydelik. Dit maak nie saak hoe lank dit gaan neem nie, die oranje oorpak wag vir hulle.”

Hy sê dit is “absoluut bisar en ondenkbaar om te suggereer dat ek die toekenning van hierdie kontrakte, jare voordat ek mnr. Sodi ontmoet het, kon beïnvloed het”.

Sodi het nie gereageer nie.

Meer oor:  Zizi Kodwa  |  Edwin Sodi  |  Asbesprojek  |  Blackhead Consulting  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.