Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Koeël in vermoorde boer se lyf kan dalk saak van jare gelede oplos

Die koeël van die skoot tydens die eerste plaasaanval wat Neil McKay jare gelede verlam gelaat het, gaan nou moontlik ná sy moord tydens ’n tweede plaasaanval uit sy lyf verwyder word.

Neil McKay wat verlam was ná ’n plaasaanval jare gelede. Foto: Verskaf

Die hoop is, beweer bronne, dat dit dalk kan help met die vervolging van verdagtes in die eerste aanval meer as 20 jaar gelede.

Intussen is Vrydagaand se moordenaars nog soek, maar, sê kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, die ondersoek duur voort.

McKay (46) was in ’n rolstoel gekluister toe hy oor die naweek op sy plaas in Winterton, KwaZulu-Natal, vermoor is.

Sy ma, Bev, het Saterdagoggend sy lyk in sy rolstoel gevind, met sy hande agter sy rug vasgebind.

Volgens die polisie lyk dit of hy verwurg is.

Dit was juis weens destyds se aanval dat hy verlam gelaat is.

Inwoners van die omgewing vertel ’n jong McKay, wat altyd maar net wou boer, het so 22 jaar gelede as plaasbestuurder op ’n ander plaas, ook in die Winterton-omgewing, gewerk en gebly.

Een aand, so rondom 19:00, onthou hulle, was daar ’n klop aan die deur. Hy het oopgemaak en is tromp-op geskiet.

Die koeël het in sy ruggraat vasgesteek.

Kennisse beweer twee verdagtes is destyds aangekeer en ’n moontlike moordwapen gevind.

Omdat ’n operasie om die koeël te verwyder egter McKay se dood sou kon veroorsaak, kon dit nie ballisties met die wapen vergelyk word nie.

Die saak is dus later teen die verdagtes teruggetrek.

McKay wou egter steeds boer en het later die plaas Skietdrif sy tuiste gemaak.

Alf Lees, DA-LP en kiesafdelingshoof vir Uthukela, die omgewing waar die aanval plaasgevind het, het vertel McKay se pa het later die plaas rolstoelvriendelik vir sy seun gemaak.

Hierop het McKay ’n gemengde boerdery bedryf en staalwerk gedoen.

André Cloete, wat Saterdagoggend saam met die res van die inwoners gereageer het toe Bev hulp ontbied het, sê mense het meestal McKay se hoenders kontant gekoop.

Talle bespiegel of dit nie dalk die motief vir die aanval was nie.

Lees het ook vroeër gesê dit lyk of die kluis in McKay se kantoor (in die skuur waar sy werkskamer ook was) leeggemaak is.

Omdat ’n operasie om die koeël te verwyder egter McKay se dood sou kon veroorsaak, kon dit nie ballisties met die wapen vergelyk word nie.

Cloete vertel hulle het nie die huis, waarheen McKay vermoedelik in sy rolstoel deur die aanvallers gestoot is, ingegaan nie.

“Blykbaar word daar nie eintlik iets vermis nie.

“Dit het wel in sy werkswinkel gelyk of daar ’n effense struweling was,” vertel hy.

Die vermoede is dat McKay dopgehou is en die aanvallers gewag het totdat sy werknemers Vrydagaand weg is.

Hy het alleen saam met sy ses honde, drie boerboele en drie Jack Russell-terriërs, gebly.

“Toe die eerste mense van die gemeenskap Saterdag op die toneel kom, was die boerboele buite die erf. Dit lyk of die aanvallers dalk die hek oopgemaak het, en toe die honde uitstorm, het hulle oor die heining gespring en die hek weer toegemaak.

“Die een boerboel en een Jack Russell lyk of hulle met iets soos ’n panga gekap is.

“Daar was ook bietjie bloed in die werkskamer, wat ons laat dink dat die honde dalk van die aanvallers kon beetgekry het,” vertel Cloete.

Die honde is na ’n veearts geneem vir behandeling.

Cloete sê dit is verstommend wat McKay homself alles vanuit die rolstoel leer doen het.

“Hy het die plaas gehad, die staalwerk gedoen, sy bakkie so ingerig dat hy kon bestuur en in en uit die rolstoel kon kom.

“Hy was so ’n rustige ou. Hy het ná die eerste aanval destyds maar net bly aangaan, dinge gevat soos dit kom.

“Die gemoedere is nie lekker na die ding nie.”

Meer oor:  Neil Mckay  |  Saak  |  Vermoorde Boer  |  Koeël  |  Plaasaanal  |  Oplossing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.