Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Koeëls vlieg nadat rowers vrag sigarette kaap
Die beveiligingsvoertuig (regs) nadat dit by die BP-vulstasie langs die N4 by Rustenburg gestop het. Foto: Verskaf

Knap polisiewerk oor twee provinsies heen het Woensdag gelei tot die inhegtenisname van agt rowers wat ’n vrag sigarette van die British American Tobacco-maatskappy gesteel het.

Die koeëls het behoorlik gevlieg toe die rowers die tabakmaatskappy se voertuig op die N4-hoofweg by ’n afrit in die Kroondal-omgewing in Rustenburg van die pad af gedwing en beroof het.

Kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder in Gauteng, sê die rooftog het omstreeks 10:00 plaasgevind.

Twee voertuie van die tabakmaatskappy is deur twee voertuie van ’n veiligheidsmaatskappy op die roete vergesel.

Die een voertuig en die beveiligingsvoertuig het die afrit in die rigting van Marikana geneem. Die ander twee voertuie het soos beplan op die N4 aangery. Die rowers het kort daarna in die omgewing van ’n Shell-vulstasie langs die N4 op die voertuie begin skiet.

Die bestuurder van die beveiligingsvoertuig, waarvan die bande flenters geskiet is, kon daarin slaag om tot by ’n BP-vulstasie te ry.

Die rowers het die voertuig met die vrag sigarette gedwing na ’n afrit na die Kroondal-omgewing, waarna hulle die voertuig gestop, die sigarette gesteel en weggejaag het.

Niemand is in die skietery beseer nie.

Volgens Makhubele is die polisie intussen ontbied.

Die voertuig op ’n grondpad in die omgewing van Kroondal nadat dit op die N4-hoofweg by Rustenburg gekaap is. Foto: Verskaf

Die polisie in Rustenburg het beskrywings van die betrokke voertuie verskaf en die polisie in Gauteng deurgaans op die hoogte gehou van waar die voertuie moontlik ry. Volgens Makhubele was verskeie polisie-eenhede betrokke, onder meer die eenheid vir ernstige en geweldsmisdaad.

Agt verdagtes in altesame vier voertuie is eindelik in Krugersdorp aan die Wes-Rand vasgetrek, nadat die polisie die Quantum-minibus, Ford Ranger, Iveco en Lexus waarin die verdagtes gery het, gewaar het. Hulle het probeer vlug deur in verskillende rigtings te jaag en op die polisie te skiet. Die polisie het teruggeskiet, maar niemand is getref nie.

“Die polisie het beslag gelê op die gesteelde sigarette, drie ongelisensieerde vuurwapens en ’n pistool, asook vier gesteelde voertuie,” sê Makhubele. Een verdagte is steeds op vrye voet.

Die agt verdagtes wat vasgetrek is, verskyn binnekort in die hof op aanklagte van gewapende roof, die besit van ongelisensieerde vuurwapens, poging tot moord, die besit van vermoedelik gesteelde goedere en roekelose of nalatige bestuur.

“Hul profiele sal ook gekontroleer word om te kyk of hulle met ander misdrywe verbind kan word, veral die roof van koeriervoertuie,” het Makhubele gesê.

Lt.genl. Elias Mawela, Gautengse polisiekommissaris, het die verskillende polisie-eenhede wat betrokke was by die inhegtenisname van die verdagtes geloof vir hul flink reaksie.

Die koeëlgate is hier sigbaar op die voertuig waarin die sigarette was. Foto: Verskaf
Meer oor:  Rustenburg  |  Sigarette  |  Kaping  |  Rowers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.