Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Koelboks met monsters soek nadat voertuig gekaap is

Enigiemand wat ’n koelhouer met toetsmonsters vir die koronavirus sien, moet die polisie onverwyld daaroor inlig, vra Oscar Mabuyane, premier vir die Oos-Kaap.

Hierdie koelhouer was in ’n afleweringsvoertuig wat Maandag omstreeks 15:30 by ’n kliniek in Motherwell in Port Elizabeth gekaap is.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê by navraag ’n saak van diefstal en kaping word ondersoek.

Volgens die polisie se inligting was die bestuurder en passasier van die afleweringsvoertuig in die parkeergebied van die kliniek toe die kapers hulle met ’n vuurwapen dreig en die voertuigsleutels eis. Die kapers het weggery sonder dat enige skote afgevuur is.

Naidu sê die gekaapte voertuig is later verlate aangetref in Siqwanestraat, sowat 500 m van die toneel.

Sy sê die polisie se ondersoek moet nog bepaal wat presies gesteel is.

Maandag se kapingsvoorval kom skaars ’n maand nadat verskeie koronavirustoetsstelle langs die N2 tussen Oos-Londen en King William’s Town deur ’n verbyganger op die grond aangetref is. Die betrokke koeriermaatskappy wat die toetsstelle vervoer het, se dienste is sedertdien opgeskort.

Mabuyane sê 2 462 gesondheidswerkers is tot dusver in die Oos-Kaap positief getoets vir die virus en 35 is aan Covid-19 dood.

Mabuyane het Dinsdag op sy weeklikse terugvoeringsessie oor die stryd teen die pandemie in die Oos-Kaap gepleit dat inwoners nie nou tou opgooi nie.

Volgens Mabuyane is 871 mense in die provinsie reeds dood aan Covid-19. Bykans die helfte (432) van die sterftes is in die eerste 20 dae van Julie aangeteken.

Die pandemie sal na verwagting teen einde Augustus of September sy piek in die provinsie bereik. Mabuyane sê die provinsie berei hom daarop voor om in dié tyd genoeg beddens beskikbaar te hê vir Covid-19-pasiënte.

In die Oos-Kaap is daar tans onderskeidelik 877 en 535 Covid-19-pasiënte in staats- en private hospitale.

Dr. Thobile Mbengashe, superintendent-generaal van die provinsiale gesondheidsdepartement, het Dinsdag aan die media gesê vooruitskattings dui daarop dat die provinsie tydens die piek sowat 10 000 gewone hospitaalbeddens en 3 000 beddens in waakeenhede sal benodig. Hiersonder kan die sterftesyfer die hoogte inskiet.

Ter voorbereiding hiervan is gewone hospitaalbeddens reeds omgeskep om vir Covid-19-pasiënte voorsiening te maak.

Die provinsie het oor vyf distrikte en in die twee metro’s R32 miljoen bestee aan 22 projekte om infrastruktuur op te gradeer, wat 480 bykomende hospitaalbeddens en 65 hoësorgbeddens beskikbaar stel.

’n Verdere 42 projekte, ter waarde van R419 miljoen, sal na verwagting teen Oktober afgehandel wees.

Die bykomende projekte in hospitale sal na verwagting ’n verdere 3 000 beddens verseker.

Met die veldhospitaal in Port Elizabeth se beddens en ’n beplande 500 veldhospitaalbeddens in elk van die provinsie se distrikte, verwag Mbengashe die totaal van veldhospitaalbeddens sal tot minstens 8 000 opgestoot word.

Volgens Mbengashe word pogings aangewend om soveel moontlik suurstof by hospitale beskikbaar te stel. Hy sê navorsing dui daarop dat pasiënte wat suurstof ontvang nie noodwendig ’n ventilator nodig sal hê nie en dat die toediening van suurstof hul kritieke versorging met vier dae kan verkort.

Die Oos-Kaap se suurstof word tans in die Nelson Mandelabaai-metro gestoor. Planne is nou onderweg vir die stig van suurstof-banke in die 19 distrikshospitale.

Mabuyane sê 2 462 gesondheidswerkers is tot dusver in die Oos-Kaap positief getoets vir die virus en 35 is aan Covid-19 dood.

Hy het sy medelye aan elke sterfgeval se familie uitgespreek en gesê die provinsie prioritiseer steeds die verkryging van beskermende kleredrag vir gesondheidswerkers.

Hy het afgesluit deur te benadruk die provinsiale gesondheidsdepartement is nie onder administrasie nie. Die provinsiale regering het wel onlangs ’n projekbestuurseenheid aangestel om die provinsie se reaksie op die pandemie te verbeter.

Die DA se herhaalde beroep dat die departement onder administrasie geplaas word, word deur Mabuyane as ’n politieke speelbal bestempel. “Dit is slegs in die Oos-Kaap dat dié beroep gemaak word. Daar word nie iets soortgelyk in die Wes-Kaap gevra waar die (infeksie)syfers veel hoër is nie. Daarom sê ek sommige partye gebruik Covid-19 as ’n politieke speelbal, iets waarop ons nie nou kan fokus nie.”

Meer oor:  Oscar Mabuyane  |  Oos-Kaap  |  Covid-19-Virus  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.