Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kollegas gaan moordenaar jag wat speurder doodskiet

Kollegas van die vermoorde lt.kol. Charl Kinnear het Vrydag sy familie belowe dat hulle nie sal gaan slaap alvorens sy moordenaar aangekeer is nie.

Kinnear is Vrydag kort ná 15:00 meer as vyf keer deur ’n gemaskerde man in ’n rooi kappie-oortrektrui geskiet waar hy voor sy huis in Gearingweg, Sidneyvale in Bishop Lavis, stilgehou het.

Die speurder, met meer as 30 jaar diens in die polisie en ’n bevelvoerder by die Wes-Kaapse teenbende-eenheid, het pas by sy huis aangekom.

Sy kinders was in die huis toe hulle die skote buite gehoor het.

Kinnear het op die toneel in sy voertuig gesterf.

Forensiese beamptes van die polisie neem foto’s van die voertuig waarin lt.kol. Charl Kinnear Vrydag voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, vermoor is. Foto: Jaco Marais
Lt.kol Charl Kinnear se kollegas Vrydag op die toneel waar hy voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, vermoor is. Foto: Jaco Marais

Die gemaskerde man is gejaag deur mense wat hom gesien het, maar hy het in die rigting van die Malawi- informele nedersetting, reg langs Bishop Lavis, gevlug.

Kinnear se lyk is kort voor 17:00 deur forensiese beamptes uit sy voertuig gehaal. Sy kollegas, speurders by die teenbende-eenheid en speurders verbonde aan die provinsiale speureenheid, het toe ’n beskermende kordon om sy liggaam en sy vrou gevorm terwyl baie van die speurders se skouers geruk het soos hulle huil.

Bronne sê die polisie het tussen vyf en ses koeëldoppies op die toneel opgetel.

Die paaie om Kinnear se huis was ure lank ná die moord afgesper.

Dit was nie die eerste aanslag op Kinnear se lewe nie.

In November verlede jaar is ’n man in hegtenis geneem nadat hy met twee handgranate naby Kinnear se huis gevind is.

Kinnear en sy gesin was toe vir ’n tydjie deur die polisie beskerm, maar die beskerming is in Januarie 2020 onttrek. Die voorval van die man met die handgranate was presies ’n week nadat nog ’n Wes-Kaapse polisiebeampte, kol. André Kay, voor sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet is.

Daar is destyds bespiegel dat die mense wat Kay doodgeskiet het, die verkeerde polisiebeampte geteiken het.

Kay se woning is ’n paar strate weg van Kinnear se huis.

Kinnear het in Januarie 2019 in ’n beëdigde verklaring gesê dat hy vir sy lewe en dié van sy gesin vrees en het gevra dat van sy kollegas verbonde aan die Wes-Kaapse misdaadintelligensie-afdeling ondersoek moet word. Hy het toe aangevoer dat lede van misdaadintelligensie in privaat voertuie voor sy huis geparkeer staan en sy huis monitor. Die voertuie, het Kinnear glo uitgevind, behoort almal aan die misdaadintelligensie-afdeling.

Lt.kol. Charl Kinnear is Vrydag in ’n sluipmoordaanval voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, vermoor.Foto: Verskaf

Kinnear was glo bekommerd dat die beamptes hom of sy gesin leed kan aandoen.

Hy was ook die afgelope drie jaar aan die hoof van twee ondersoeke teen Nafiz Modack (38), een van die beweerde leiers in die Kaapse onderwêreld.

Die een saak was ’n voorval van afpersing waarin Modack, Colin Booysen, Jacques Cronjé en Ashley Fields glo probeer het om die bestuur van The Grand, ’n bekende Kaapse opelugrestaurant by die Kaapse Waterfront vir beskermingsgeld af te pers.

Hulle is egter in die streekhof in Kaapstad onskuldig op al die aanklagte bevind.

Die ander saak wat Kinnear teen Modack ondersoek, is een waarin hy en 20 ander mense, wat insluit vuurwapenhandelaars en polisiebeamptes, in die landdroshof in Kempton Park verskyn het. Hulle staan tereg op aanklagte van bedrog en regsverydeling en aanklagte wat verband hou met oortredings van die Wet op Vuurwapenbeheer.

Modack het Vrydag by navraag gesê hy is “beslis nie” betrokke by die moord op Kinnear nie.

Kinnear is ook die ondersoekbeampte in die moordsaak van adv. Pete Mihalik, ’n bekende Kaapse regsman wat in 2018 in soortgelyke omstandighede naby sy kinders se skool in Groenpunt, Kaapstad, vermoor is.

Mihalik se drie vermeende moordenaars moet op 26 Februarie 2021 in die hooggeregshof in Kaapstad in ’n voorverhoor verskyn.

Intussen het genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, Kinnear se moord veroordeel. Hy het Kinnear as een van die polisie se voorste ondersoekbeamptes beskryf . Sitole het die Wes-Kaapse polisiehoof, lt.genl. Yolisa Matakata, ook Vrydag opdrag gegee om die polisie se 72-uur-reaksieplan in werking te stel.

Met dié plan werk die polisie, misdaadintelligensie, forensiese deskundiges, die Valke en die taktiese reaksie-eenhede saam om alle inligting op te volg om verdagtes op te spoor.

Hy het gesê dat die polisie seer en kwaad is oor die ontydige verlies en dat Kinnear se moord ’n groot verlies vir Suid-Afrika en sy mense is. “Ons sal nie rus voordat diegene verantwoordelik vir sy moord agter tralies is nie,” het Sitole gesê.

Hy het gevra dat mense met inligting die polisie op die Stop Misdaadnommer 0860 010 111 moet kontak. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

Lt.kol. Charl Kinnear is geskiet kort nadat hy stilgehou het. Foto: Verskaf



Meer oor:  Bishop Lavis  |  Moord  |  Charl Kinnear  |  Teenbende-Eenheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.