Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kom ons bid, toe raak die geld op

Ben Otto het soggens op kantoor die dag met skriflesing en gebed vir sy werkers begin. Sy onderneming, RSA Search, het miljoene rande se beleggers gewerf en die beleggers is met buitengewoon hoë rente vergoed.

Magriet Otto en haar ma, Dorie Maritz (73).
Magriet Otto en haar ma, Dorie Maritz (73).

Maar toe raak sy geld op en nou vrees sy honderde beleggers dat hulle hul miljoene kwyt is.

Die Valke ondersoek strafregtelike klagte teen Otto. Twee bronne na aan die ondersoek sê RSA Search lyk soos niks anders as ’n Ponzi-skema nie.

Otto (67), ’n oudonderwyser, het sy onderneming sedert 2014 op RSG, die streekradiostasies Overvaal Stereo en OFM, en op Die groot ontbyt op kyk­NET geadverteer as ’n beleggingskema met gewaarborgde, groot winste en min finansiële risiko. Sy advertensies is meestal soggens uitgesaai en was veral gemik op pensioentrekkers.

Volgens Otto het toeristebestemmings RSA Search betaal om hul plekke op die RSA Search-webblad te lys. Dié onderneming was glo só suksesvol dat hy ’n opbrengs van eers 2% en later 3% per maand aan sy beleggers kon betaal. Dit kom neer op ’n jaarlikse opbrengs van 36% per jaar.

‘Ag man, ons moenie worrie nie.’

Die uitbetalings was in Januarie laat, en toe droog dit op. In April het Otto sy beleggers per e-pos laat weet weens die inperking gaan hy die uitbetalings tydelik staak. Kort daarna is hulle ingelig die maatskappy word gelikwideer.

Twee voormalige werknemers van RSA Search sê hul salarisse het saam met die uitbetalings opgedroog.

“Hy het in die tweede week van die inperking gebieg dat beleggers hoofsaaklik vergoed is met die geld wat hulle belê het eerder as uit die verkoop van advertensies,” sê een van die werknemers. Volgens dié werknemer het Otto hulle verseker dat hy nie skelm is nie, maar het verduidelik dat hy nie weet wat met sy onderneming gaan gebeur as hy nie geld van beleggers inkry nie. “Ons het toe besef hy het letterlik op ander mense se geld gelewe.”

Sy sê Otto het ’n waardasiesertifikaat vir beleggers gewys dat RSA Search R75 miljoen werd is, terwyl dit in werklikheid minder as R180 000 per maand uit die verkoop van advertensies gemaak het. “Hy het homself ’n salaris van R190 000 per maand betaal. Die maatskappy het nie eens genoeg geld gemaak om werknemers se salarisse te betaal nie.”

Ben Otto (67), eienaar van RSA Search Foto: Verskaf

Sy sê hulle moes Otto se bestaande beleggers bel en hulle aansê om nog te belê om die geld te red wat hulle reeds belê het.” Haar kollega sê Otto het selfs vir haar gevra of sy nie ’n miljoen rand het om te belê nie.

Sy sê hordes beleggers het by hul kantore opgedaag en geëis dat Otto hul geld terugbetaal. “Otto het in sy kantoor gaan wegkruip en ons is aangesê om die mense te paai. Hy het elke keer gesê: ‘Ag man, dit sal oor ’n week of wat oorwaai – ons moenie worrie nie’. ”

Sy sê Otto was bekommerd dat speurders na die kantore sou kom en hulle as beleggers voordoen.

Otto het Rapport uitgenooi om ’n onderhoud met hom by sy huis in Potchefstroom te voer, maar het later gesê hy stel nie belang om te praat nie. “Julle kan maar skryf net wat julle wil. Ek gaan nie iets sê wat my impliseer en later teen my gebruik kan word nie,” het hy toe gesê.

Hy het verlede week teenoor Netwerk24 ontken dat hy met enige van die beleggers se geld “gewoeker” het. “Ek het nooit ’n piramideskema bedryf nie.

“Mense het in my onderneming belê met die verstandhouding dat hulle in die wins sou deel. Hul geld is gebruik om die onderneming te bedryf.”

Meer oor:  Ben Otto  |  Rsa Search  |  Ponzi-Skema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.