Die polisie het vandeesweek by ’n dokterspraktyk in Sannieshof, Noordwes toegeslaan waar ’n Kongolese man glo onwettig as dokter gewerk het.
Die Suid-Afrikaanse Raad op Gesondheidsberoepe sê in ’n verklaring F. Mpiana het by die praktyk van dr. Tebogo Kaeletsa gewerk, na bewering sonder dat hy by die beroepsraad geregistreer is.
Die polisie het Mpiana in hegtenis geneem op aanklag van bedrog, asook ’n oortreding van die Wet op Gesondheidsberoepe.
Mpiana het reeds in die hof verskyn, maar die raad kon nie Donderdag dadelik inligting verskaf oor of hy op borgtog vrygelaat is nie.
Volgens die raad is Kaeletsa wel by die raad geregistreer, maar hy sal nou by die Raad vir Mediese en Tandheelkundige Beroepe verkla word. Hy kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Die raad waarsku in die verklaring dat gesondheidspraktisyns nie ongeregistreerde gesondheidswerkers by hul praktyke in diens mag neem nie. Dit kan voorkom word deur die betrokke gesondheidswerker se kwalifikasies en registrasie op die raad se webwerf na te gaan.