Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Koning van tenders’ is langtand jammer

Thandisizwe Diko, eggenoot van die presidensiële woordvoerder, het sy R125 miljoen-kontrakte met die Gautengse departement van gesondheid gekanselleer eers ná die aankondiging op 7 April dat die spesiale ondersoekeenheid (SOE) dit ondersoek.

Hoofman Thandisizwe Diko en sy vrou, Khusela, op hul tradisionele troue in Desember 2018.Foto: NOMAMPONDO PLAATJIE

Eers op 9 April het dié selfverklaarde “koning van die amaBhaca-nasie” dit gekanselleer.

Khusela Diko, woordvoerder van pres. Cyril Ramaphosa, het Donderdag aan Rapport gesê sy het haar voorbehoud met haar man bespreek nadat sy van sy bedrywighede bewus geraak het.

“Volgens my man is die toekenningsbriewe in April 2020 gekanselleer,” het sy gesê.

Haar man het aan die SAUK gesê dit het op 20 of 30 April gebeur en dat hy “teensinnig” was.

Khusela Diko het haar pos intussen eers neergelê. Ook dr. Bandile Masuku, LUR vir gesondheid, is met spesiale verlof en die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) van die ANC het albei versoek om as lede terug te staan.

Hy is nie eens ’n regte koning nie!

Royal Bhaca Projects, wat in 2018 gestig is en waarvan die “koning” ’n direkteur is, sou groot voordeel kon trek uit twee tenders om persoonlike beskermingstoerusting (PBT) aan die gesondheidsdepartement te verskaf. Een van R74 miljoen is op 30 Maart toegeken en een van R78 miljoen op 1 April.

Die egpaar het Woensdag in ’n verklaring gesê: “Ons het probeer om dit reg te stel deur die kontrak te kanselleer en ons is diep jammer oor die oordeelsfout wat daartoe gelei het dat Royal Bhaca Projects in die eerste plek probeer het om sake met die departement te doen.”

In die SAUK-onderhoud Donderdag het Thandisizwe Diko gesê hy het gefokus op dit wat die onderneming wou bereik toe hy vir die kontrakte getender het. “Dit is om te verseker dat tradisionele leiers in staat is om hul gemeenskappe te steun. Ek het ’n verantwoordelikheid om die landelike gemeenskap van waar ek kom by te staan. Daarvoor moet ek bronne insamel. Ek het nie die feit dat my vrou in die presidensie werk, in aanmerking geneem nie, maar nadat sy dit met my bespreek het, het ek besef dalk is dit die beste om kop uit te trek.”

David Makhura, Gautengse premier, het op 7 April aangekondig die SOE gaan gevra word om Covid-19-kontrakte te ondersoek. Dit het gevolg nadat die departement van gesondheid buitensporige bedrae vir toerusting betaal het.

Altesame 75 mense het gedeel in dié tenders van R2,2 miljard.

Onder hulle is die oudminister Nomvula Mokonyane se dogter Katleho, wat deur die maatskappy Tuwo Rhodesia ’n PBT-kontrak van R2,7 miljoen gekry het.

Die bande tussen die Diko- en Masuku-gesinne strek ver terug.

Khusela was strooimeisie op die LUR se troue. Sy vrou, Loyiso Lugayeni-Masuku, is ’n raadslid en uitvoerende komiteelid in die Johannesburgse metroraad.

Inligting van die kommissie vir maatskappye en intellektuele eiendom (CIPC) wys sy en Thandisizwe Diko is aktiewe direkteure van die maatskappy Cytozone.

Lugayeni-Masuku het aan News24 gesê Cytozone is in 2012 gestig voordat sy ’n metroraadslid geword het. Ook sy het haar amp nou tydelik neergelê.

Die Diko’s is direkteurs van ’n rits private maatskappye. Khusela dien in die direksie van agt wat aktief sake doen. Thandisizwe dien in sewe direksies. Hy is so onlangs as 1 April deur dr. Blade Nzimande in die direksie van ’n sektor-onderwys-en-opleidingseenheid aangestel.

Intussen het die Oos-Kaapse regering gesê hy is geen koning nie. Ook Fikile Makaula, voorsitter van die Mngcisane kaMakaula- koninklike familie, wat oor 26 amaBhaca-nedersettings in Mount Frere heers, het aan Lubabalo Ngcukana gesê daar is tans geen koning nie en Thandisizwe Diko is hoofman oor net twee amaBhaca-nedersettings.

Meer oor:  Thandisizwe Diko  |  Khusela Diko  |  Korrupsie  |  Tenders  |  Royal Bhaca Projects  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.