Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Konstabel dood ná skietery in bakkery

Die polisiebeampte wat Maandagoggend in Port Elizabeth in ’n gewapende rooftog raakgeskiet is, is later die middag dood.

Konst. Dwane Kemp (31), van die polisie se blitspatrollie-eenheid, is omstreeks 08:45 deur rowers geskiet toe hy en sy kollega op ’n rooftog by ’n bakkery in Rosestraat, Sentraal, gereageer het.

Die polisie het Maandag die hele straatblok voor die Le-Bon-bakkery in Port Elizabeth afgesper terwyl hulle die toneel ondersoek. Foto: Lulama Zenzile

Vier van die vyf gewapende rowers is in die kruisvuur deur die polisie doodgeskiet.

’n Werknemer van die Le-Bon-bakkery het glo daarin geslaag om die paniekknoppie te druk toe die gewapende rowers by die winkel inbars en geld eis.

Beamptes van die blitspatrollie het gereageer, waarna ’n heen-en-weer-skietery binne die bakkery ontstaan het die oomblik wat die polisie die bakkery binnegegaan het.

Die polisiebeamptes en forensiese deskundiges op die toneel. Foto: Lulama Zenzile

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, Oos-Kaapse polisiekommissaris, het in ’n verklaring bevestig Kemp is in die voorval raakgeskiet.

Hy is twee keer in sy maag en een keer in sy hand getref.

Kemp is kort ná die aanval in die hospitaal opgeneem waar hy ’n noodoperasie ondergaan het.

Ntshinga sê vier rowers is ten tyde van die voorval noodlottig gewond, terwyl ’n vyfde rower glo daarin geslaag het om te vlug.

Die polisie het Maandag hoë sigbaarheid voor die Le-Bon-bakkery gehandhaaf. Foto: Lulama Zenzile

Inwoners van die gebied, wat grootliks uit buitelanders bestaan, het vinnig nader gestaan om te sien wat gebeur het. Bloedkolle langs ’n polisievoertuig voor die bakkery het van die dodelike skietvoorval getuig.

Volgens een omstander is ’n werknemer van die bakkery tydens die kruisvuur in die been raakgeskiet en na ’n hospitaal geneem.

Konst. Dwane Kemp Foto: Lulama Zenzile

Nog ’n werknemer van die bakkery het in ’n poging om van die rowers te vlug, glo van die eerste verdieping van die bakkery se gebou gespring. Dié werknemer het glo ’n been gebreek en is ook in die hospitaal opgeneem.

Volgens Tembinkosi Kinana, Ntshinga se woordvoerder, het die polisie Maandagoggend drie vuurwapens op die toneel gekonfiskeer.

Die vuurwapens sal na die ballistiese eenheid gestuur word om vas te stel of die wapens moontlik vir ander soortgelyke misdade gebruik is.

Ntshinga het Maandag die aanval op die polisie ten sterkste veroordeel en ’n aktiveringsplan van 72 uur afgekondig. Met die plan word noodhulpbronne van misdaadintelligensie, forensiese kenners, speurdienste en taktiese spanne vir die ondersoek ingespan sodat geen bewyse verlore kan gaan nie.

Sy het ook ’n beroep op die gemeenskap gedoen om met inligting na vore te kom oor die vyfde persoon wat gevlug het.

Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

Meer oor:  Konst. Dwane Kemp  |  Port Elizabeth  |  Skietery  |  Gewapende Rooftog  |  Misdaad  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.