Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Konstabel skiet seun glo na argument

’n Polisiekonstabel is Vrydagaand op ’n aanklag van poging tot moord in hegtenis geneem nadat hy glo op ’n tienerseun geskiet het.

Die 17-jarige moes Saterdagoggend ’n operasie ondergaan om die koeël, wat vanaf sy regterboarm tot by sy blad getrek het, te verwyder.

Kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder, het die voorval en inhegtenisneming bevestig, maar het alle ander navrae verwys na die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), wat die saak verder ondersoek.

Die 17-jarige seun is in die boarm getref nadat ’n polisiekonstabel hom glo Vrydagaand geskiet het. Foto: Verskaf

Die 17-jarige seun het glo Vrydagaand vroeg met ’n groep vriende buite ’n kafee op die hoek van Burgerstraat en Britsweg in Pretoria-Noord staan en gesels.

Luidens bronne het ’n wit Volkswagen Polo spoed verminder toe dit verby die groepie ry en iets vir die kinders geskree.

Die voertuig het toe by die polisiewoonstelle oorkant die pad ingedraai, maar ’n paar minute later uitgery gekom.

“Die man het weer tot by die groepie kinders gery en iets geskree. Dié slag het van die kinders iets terug gesê, maar die slagoffer kon nie verstaan wat hulle sê nie en het effens weg gestaan,” vertel ’n bron.

Die voertuigbestuurder het intussen glo uitgeklim en ’n woordewisseling het tussen hom en van die kinders gevolg.

“Volgens van die kinders het die man na drank geruik. Die betrokke seun het nadergestap en een van sy vriende weggetrek van die argument af. Toe rig die bestuurder ’n vuurwapen – van die kinders het vertel dit was reg op die slagoffer se kop,” het nog ’n bron bygevoeg.

Die seun het weggedraai en ’n skoot het geklap.

Hy is in die regterboarm getref en die bestuurder het weggery.

Die kind is hospitaal toe geneem, waar hy in ’n stabiele toestand is.

Intussen het polisielede reeds die aand ’n verklaring by die seun afgeneem.

Die konstabel is dieselfde aand in hegtenis geneem.

Moses Dlamini van OPOD het gesê die konstabel is gearresteer toe hy by die Hammanskraal-polisie ‘n aanklag van opsetlike saakbeskadiging wou indien. Hy is van daar weer na Pretoria gebring en is in aanhouding totdat hy Dinsdag in die hof verskyn

Meer oor:  Pretoria  |  Skiet  |  Seun  |  Konstabel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.