Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Koos skryf oor Mooinooi-moorde in brief voor selfdood

Koos Strydom het voor sy dood twee briewe geskryf.

Een was aan sy vrou, Mercia.

Die ander een bevat “die waarheid van die dood van die twee vroue”.

Die tweede brief is nie ’n bekentenis of ontboeseming nie, maar sy weergawe van wat op 10 Desember 2017 met Joey en Anisha van Niekerk van Mooinooi gebeur het.

’n Uittreksel uit Koos Strydom se laaste briewe met sy weergawe/beskrywing van Joey en Anisha van Niekerk se moorde.
’n Deel van Koos Strydom se afskeidsbrief aan sy vrou, Mercia.
Koos Strydom se doodsertifikaat spesifiseer nie soos gewoonlik of sy dood “natuurlik” of “onnatuurlik” is nie, maar bloot dat dit ondersoek word.

Strydom (54) en sy vrou (23) word saam met Alex Modau (36) en twee broers, Aaron James (26) en Jack Chinkinya Sithole (19), van die vroue se moord aangekla.

Die Sithole-broers word ook van verkragting aangekla.

Net Mercia is intussen op borgtog vrygelaat.

Strydom is op 16 September die jaar bewusteloos in sy enkelsel in die Kgosi Mampuru II-gevangenis gevind en na die Kalafong-hospitaal geneem. Hy is vier dae later dood.

Die bewering was dat hy glo ’n oordosis slaappille ingeneem het, hoewel die departement van korrektiewe dienste (DKD) verwys het na “gif”.

Dit is onbekend hoe Strydom enige een van dié middels in die hande sou kon kry, omdat hy beperkte toegang tot ander gevangenes gehad het en glad nie kontakbesoeke toegelaat is nie.

Die DKD het nog nie op navrae hieroor geantwoord nie.

Luidens bronne is Mercia in die stadium “oortuig” dat Strydom vermoor is.

“Maar daardie denke kan wees weens haar emosionele toestand. Daardie briewe wat in Koos se sel gekry is, is in sy handskrif en die troetelwoorde wat hy haar noem,” sê van hulle.

Wat Mercia se hartseer vererger, sê die bronne, is dat sy nie op 20 September vir Strydom kon groet nie, omdat die masjiene voor haar aankoms by die hospitaal afgeskakel is.

“Hulle het haar van die hospitaal af gebel en gesê Koos is breindood, sy moet kom groet.

“Maar sy moes, volgens prosedure, eers by die tronk aanmeld om toestemming te kry om Koos by die hospitaal te besoek – en dit het haar te laat gemaak,” sê bronne.

Strydom is op 1 Oktober in ’n Rustenburgse begraafplaas begrawe, nadat ’n lykskouing gedoen is.

Luidens die amptelike doodsertifikaat word die oorsaak van sy dood nog ondersoek.

Dit blyk dat daar nog gewag word vir die uitslag van weefsel- en toksikologietoetse.

* Die verhoor in die Van Niekerk-moordsaak gaan in November teen die ander beskuldigdes voort.

 Die brief aan Mercia:

“Hi Babby (sic), ek wens die lewe was anders; ek is moeg vir die lewe wat ons nou het. Jy weet, om elke dag in vier mure te kyk, maak my siek. Ek hou elke dag die deure dop . . .

“Jy sal my nie glo nie, ek voel soos ’n hond wat net wag vir kos en wens ek is weg van die plek . . .”

So begin Strydom se brief aan Mercia.

Hy verduidelik hoe “mal die plek” hom maak en dat al uitweg “vir my is om selfmoord te pleeg, want ek sien geen lewe vir my wat oorbly nie”.

Strydom voeg by dat sy en Mercia se lewens “gev*k” is met “die k*k wat niks met ons te doene het nie, nou sleep almal my en jou saam met hulle k*k”.

Hy sê dat hy nie vir Mercia langer so kan laat swaarkry nie.

“Ek weet jy het my lief en ek het jou lief, maar ek kan niks vir jou doen of beteken solank ek in die tronk sit nie.”

Strydom verduidelik dat hy sy eie lewe gaan neem sodat Mercia nie saam met hom moet ondergaan nie, maar ’n kans het om oor te begin.

“Ek weet dit gaan swaar wees, maar ek weet God sal jou dra . . .”

Strydom verduidelik dat hy nie die besluit ligtelik geneem het nie, maar na sowat ’n jaar en agt maande in die tronk, kan hy nie meer nie.

Hy eindig met: “Lief vir julle twee (Mercia en hul dogtertjie) en jamer (sic) vir alles asb asb vergewe my asb, asb. Baai”.

 “Brief oor voorval”

(Sekere detail word op regsadvies weerhou, omdat die verhoor teen die ander beskuldigdes nog hangend is)

* Die staat beweer dat Strydom die Van Niekerks se plaas wou hê, ’n koopkontrak opgestel is, en die vroue toe ontvoer en gedwing is om dit te onderteken. Hy het sy duikklop-onderneming van ’n werkswinkel op die vroue se eiendom bedryf.

Koos Strydom rig die brief aan Mercia, sodat sy “die waarheid weet” oor die dood van Joey en Anisha van Niekerk.

Dit is geskryf asof sy geen kennis van die voorval het nie.

Strydom skryf dat een van die medebeskuldigdes op 7 Desember 2017 gesien het hoe hy vir Anisha geld gee en dat dié geweet het sy is alleen tuis.

Dié medebeskuldigde het glo aan Strydom gesê dat hy Anisha gaan beroof.

“Ek sê toe vir (die medebeskuldigde), los die k*k . . .”

“Gelukkig” het Anisha later gesê sy gaan Pretoria toe.

Die medebeskuldigde het kwaad gelyk hieroor.

Onder die hofie “10/12/2017”, die dag wat die Van Niekerks vermoor is, vertel Strydom dat Anisha opgedaag het met twee kontrakte, een vir haar en een vir Strydom.

Hy het haar glo R50 000 gegee en sy het gery.

Volgens die brief het Strydom toe ook gery.

Op pad terug het hy glo vir Anisha en Joey, die medebeskuldigde en nog ’n persoon in Anisha se kar gesien.

“Nou warry (sic) ek, my kop is nou gev*k en ek weet (die medebeskuldigde) het gesê hy gaan hulle rape, nou hardloop baie dinge deur my kop . . .” skryf Strydom.

Hy het dié medebeskuldigde gebel, maar sy foon was af.

Strydom en die man het wel later ’n telefoniese gesprek gehad waarin die persoon glo al vloekende gesê het hy soek R5 miljoen, anders is daar moeilikheid.

“Nie lank nie, toe bel hy weer en ek hoor in die agtergrond ‘Koos kom asb’ en ek vra vir (die medebeskuldigde) wat gaan aan,” lui Strydom se brief.

Strydom het glo ook vir Anisha gebel – meer as een keer – maar sy het nie geantwoord nie.

Hy sê hy het begin bid dat die Van Niekerks veilig is, maar kon nie na die polisie toe gaan nie, omdat hy “nie feite” het nie.

Later by die plaas het hy glo ’n groot vuur gesien.

Hy kon nie sien wat brand nie.

Die medebeskuldigde het glo vertel dat hulle Joey en Anisha verkrag, doodgemaak en hul lyke verbrand het.

Luidens Strydom se brief was daar baie van die medebeskuldigde se vriende op die plaas. Een het bloed aan sy klere gehad, sowel as Anisha se horlosie en ring.

Almal het “gevlug”.

“ . . .Nou weet ek nie wat om te doen, ek kan nie polisie toe gaan nie, want almal is weg en ek weet nie ’n v*k wie betroke (sic) was of nie en ek weet ook nie wat om te doen nie, want almal is weg en my aleen (sic) gelos . . .”

Dan eindig hy met: “Daar is nog, maar papier is klaar. Jammer oor alles. Love you”.

Meer oor:  Mooinooi  |  Koos Strydom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.