Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Koppe kan nie nou rol, sê Cele oor misdaadsyfers

Koppe kan nie nou rol nie, want hulle moet toegelaat word om die situasie om te keer, het Bheki Cele, minister van polisie, gesê na aanleiding van die amptelike misdaadstatistieke vir die 2018-’19-boekjaar wat Donderdag bekendgemaak is.

Suid-Afrika se nasionale moordsyfer het met 3,4% gestyg, met 686 meer moorde wat in die afgelope boekjaar vergeleke met die vorige jaar gepleeg is.

Cele en die topstruktuur van die polisie, onder leiding van Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die nasionale misdaadstatistieke in die parlement bekend gestel.

Bheki CeleFoto: Argief

Altesame 21 022 moorde is in die 2018-’19-boekjaar gepleeg teenoor 20 336 in die vorige boekjaar.

Die meeste moorde het oor naweke – Vrydag tot Sondag – plaasgevind.

Vuurwapens, messe en ander skerp voorwerpe is in die meeste gevalle gebruik om die moorde te pleeg.

Seksuele misdrywe het met 4,6% toegeneem, van 50 108 tot 52 420.

Poging tot moord het met 747 gevalle gestyg, van 18 233 tot 18 980.

Aanranding met die opset om ernstig te beseer het van 167 352 tot 170 979 voorvalle toegeneem.

Cele is op ’n mediakonferensie by die parlement ná die bekendmaking van die syfers gevra of koppe gaan rol, soos hy verlede jaar belowe het.

Hy het toegegee dat ’n styging van 686 in mense wat vermoor is baie bykomende lewens is om te verloor. “Ons is inderdaad nie waar ons wil wees nie, maar ook nie waar ons verlede keer was nie. (Verlede jaar was dit ’n toename van 1 320.) Ons glo dat ons gestagneer het . . . Ons moet dit nou omkeer.

“So koppe kan nie rol nie, want daar word van hulle verwag om die getal af te bring. So laat hulle toe om die situasie om te keer, veral in sommige van die gebiede. ’n Styging van 686 meer mense wat vermoor is, is ’n groot getal, maar wetende dat die vorige jaar se styging 1 300 was . . . So ons sê vir hulle, laat ons wegbeweeg van rooi na groen.”

Genl.maj. Norman Sekhukhune, hoof van misdaadnavorsing en statistieke, het gesê Suid-Afrika se moordsyfer is tans 36,4 per 100 000 mense. In die vorige jaar was dit 35,8 per 100 000.

Hy het vroeër die oggend aan die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie gesê die meeste moorde vind oor naweke plaas en word hoofsaaklik met vuurwapens, messe en skerp voorwerpe gepleeg.

Onder die oorsake vir die drie kontakmisdade wat moord, poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer insluit, tel rusies of misverstande, gesinsgeweld, bendegeweld, gewapende roof, vigilante optredes, wraak, taxigeweld en onwettige mynbou.

sss

Op ’n vraag oor hoe die polisie die moordsyfer gaan afbring, het Cele gesê in die verlede is sekere stappe gedoen waarna weer gekyk moet word. Dit sluit in om sekere eenhede wat voorheen ’n impak gehad het weer in die lewe te roep, metodes te vind om meer met nieregeringsorganisasies en die samelewing in geheel saam te werk, maar ook om beter as ’n groep polisiekantore saam te werk omdat dit beter resultate lewer.

“Ook verdere opleiding, veral vir gespesialiseerde eenhede wat reageer op goed beplande misdaad soos transitorooftogte, bankrowe, motor- en vragmotorkapings. En ook die opskerping van ons speurders, om hulle beter op te lei, veral oor vrouekwessies om seker te maak dat die prestasies van die FCS-eenhede (wat op gesins- en seksuele geweld fokus) selfs beter is.”

Cele het op ’n vraag gesê daar is geen twyfel nie dat alkohol ’n groot rol in misdaad speel.

Die polisie het besluit om strenger op te tree. Die meeste gekonfiskeerde alkohol kom van onwettige sjebiens. Daar moet ook gekyk word na die dranklisensies wat deur owerhede toegestaan word. “Jy kan nie ’n lisensie toestaan wat sê hulle kan om 04:00 sluit nie. Hoe langer hulle oop bly, hoe meer drink mense en vermoor hulle mekaar. Ja, enigiets – uit die oogpunt van die polisie – wat alkoholmisbruik beperk, sal ons steun,” het Cele gesê.

’n Bespreking is aan die gang oor hoe gereeld misdaadstatistieke bekend gemaak moet word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.