Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Korrupsie, bedrog in Noordwes hou Valke en SOE besig

Die parlementêre ad hoc-komitee wat toesig hou oor die nasionale regering se ingryping in Noordwes het Maandag gehoor die Valke ondersoek tans 51 sake van korrupsie, bedrog en ander onreëlmatighede in dié provinsie.

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek 44 sake.

Die nasionale regering het in 2018 in Noordwes ingegryp nadat dienslewering in dié provinsie byna tot stilstand gekom het.

In dieselfde tyd is Supra Mahumapelo, toe die premier, deur die ANC herroep en vervang met Job Mokgoro, wat onlangs deur die ANC in Noordwes geskors is, maar steeds premier is.

Supra Mahumapelo, vorige premier van Noordwes. Foto: Argief

Die Valke, die SOE en die polisie het vroeër ook voor die komitee verskyn, maar die komitee was nie tevrede met die inligting wat hy ontvang het nie.

Genl. Godfrey Lebeya, bevelvoerder van die Valke, het aan die komitee gesê van die 29 sake waaroor hy Maandag verslag gedoen het, is 20 sedert die ingryping geopen. Die administrateurs wat die regering aangestel het, het tien sake aangemeld.

Hy wou nie sê of Mahumapelo een van die mense is wat tans deur die Valke ondersoek word nie.

Lebeya het in antwoord op ’n vraag van Stephanus du Toit van die VF Plus gesê dit sal nie in die belang van geregtigheid wees vir enige iemand om te lees dat hy of sy word tans ondersoek word en dit word in die openbaar bekend gemaak voordat dié persoon ingevolge die Grondwet gewaarsku is dat hy of sy ondersoek word.

Sewe van die sake wat deur die Valke in dié provinsie ondersoek is, word tans deur die nasionale vervolgingsgesag (NVG) oorweeg vir moontlike vervolging. Twee hofsake is tans aan die gang.

Van die klagte word al sedert 2017 ondersoek.

Verskeie sake het op niks uitgeloop nie omdat die fluitjieblasers nie ondersteunende dokumente kon lewer nie, maar dié sake kan later heropen word.

Meer as R122 miljoen is betrokke by die sake wat deur die Valke ondersoek word.

Lebeya sê ses van die 29 sake waaroor hy verslag gedoen het, word ondersoek in die departement van onderwys en sportontwikkeling, vyf in die departement van gesondheid en vier in die departement van openbare werke en paaie.

In die departement van maatskaplike ontwikkeling word bedrog van R43 miljoen ondersoek en in die departement van menslike nedersettings ’n behuisingsprojek in Rustenburg van R84 miljoen.

In een van die ondersoeke het die Valke al by 587 mense verklarings geneem.

Adv. Andy Mothibi, SOE-hoof, het aan die komitee gesê nege sake wat deur die SOE ondersoek is, is al na die NVG verwys vir moontlike vervolging. Hiervan was agt in die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid en een in die departement van openbare werke en paaie.

Mothibi het ook gesê sake ter waarde van R59 miljoen word tans deur die SOE se tribunaal aangehoor.

Dié eenheid ondersoek beweerde wandade ter waarde van sowat R360 miljoen by net twee munisipaliteite: Madibeng en Moretele.

Sake wat te make het met onreëlmatighede met die Covid-19-pandemie word in die departemente van onderwys, gesondheid en maatskaplike ontwikkeling ondersoek.

Yunus Carriem (ANC) het op die vergadering gesê die publiek in Noordwes is moeg vir al die probleme en ongeduldig.

Wat belangrik is van die ondersoeke wat gedoen word, is nie hoeveel sake ondersoeke word nie, maar dat die gehalte van die ondersoek goed genoeg is om die skuldiges te vervolg.

Die komitee sal Noordwes Sondag besoek.

Meer oor:  Noordwes  |  Valke  |  Bedrog  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.