Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Korrupsie by Blou Bulle kring nog uit

Ondersoekers by die Blou Bul Maatskappy (BBM) soek na derduisende rande se deposito’s wat na bewering in kontant aan die BBM se voormalige hoëprestasie-bestuurder oorhandig is.

Dit is geld wat spelers wat gekwalifiseer het om in die Blou Bulle se behuising vir junior spelers te bly na bewering oor ’n aantal jare aan Xander Janse van Rensburg moes betaal vir “breekskade”.

Tussen 60 en 80 spelers het glo R5 000 elk betaal, maar dit lyk asof die geld nooit in die BBM-bankrekening beland het nie. Dit kan tussen R300 000 en R400 000 beloop. Daar is volgens Rapport se bronne geen aanduiding dat die deposito’s aan die spelers teruggegee is nie.

Alfons Meyer, uitvoerende hoof van die BBM, het die afgelope week gesê die ondersoek teen Janse van Rensburg is uitgebrei nadat nuwe inligting aan die lig gekom het. Hy wou nie sê of dit oor die depositoskema is nie. Drie bronne na aan die ondersoek het dit egter bevestig.

Volgens Rapport se bronne was Janse van Rensburg sedert 2014 aan die stuur van die Bulle se behuising vir juniors. Die BBM was glo nie bewus van die deposito-stelsel nie totdat hulle later toevallig by ouers daarvan uitgevind het.

Rapport het vroeër berig die BBM ondersoek ’n bewering dat die BBM ’n huis van ’n familielid van Janse van Rensburg, teen R1 miljoen per jaar gehuur het.

Rapport verneem nog werknemers het nou beëdigde verklarings oor Janse van Rensburg se beweerde onreëlmatighede afgelê.

Die ondersoekers bekyk ook nou spelersagente wat met Janse van Rensburg onderhandel het oor kontrakte. Daar is bewerings van hoër as markverwante kontrakte wat met sekere agente se spelers gesluit is, van spelers wat met kontrakte by Loftus Versfeld opgedaag het sonder dat die afrigtingspersoneel daarvan geweet het en van gunslone wat aan Janse van Rensburg betaal is.

Janse van Rensburg wou nie kommentaar lewer oor die jongste bewerings nie. Hy het vroeër vir Rapport gesê hy gee sy volle samewerking vir die ondersoekers.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.