Corruption Watch sê in sy jaarverslag vir 2019 hy het verlede jaar 3 694 verslae van fluitjieblasers ontvang. Dit werp lig op die manier waarop mense deur korrupsie in onder meer skole, die mynsektor en in die polisie- en gesondheidsdiens van hul basiese regte ontneem word.
David Lewis, hoof van Corruption Watch, sê die organisasie het die verslag uitgereik te midde van ’n wêreldwye en nasionale krisis van ongekende afmetings.
Die huidige krisis lig die dodelike gevolge van korrupsie uit en dit is veral korrupsie in die wanfunksionele plaaslike regering wat openbare gesondheid en waterlewering verwoes het. Hy sê lewens wat andersins gered sou kon word, sal weens korrupsie nie nou gered kan word nie.
“Ons kan ook nie verwag dat korrupsie sal verminder tydens die krisis nie, om die waarheid te sê, die krisis kan die magsmisbruik dalk vererger.”

David Lewis van Corruption Watch. Foto: Cornél van Heerden
Gemeenskap moet waaksaam bly
Die noodsaaklike verslapping van protokol vir dringende aankope gedurende die gesondheidskrisis kan daartoe lei dat mense hul magte en hulpbronne nog meer misbruik, sê Lewis.
“Die gemeenskap moet waaksaam wees en toegewyd bly om korrupsie bloot te lê. Selfs nou wanneer die bekamping van die verspreiding van die virus ’n noodsaaklikheid is, is ons gereed om ons rol te vervul.”
In 2019 het Corruption Watch daagliks gemiddeld tien verslae ontvang wat daarop dui dat die gemeenskap sy bes doen om korrupsie te beveg.
Die meeste klagte (12%) was oor die polisie, dan skole (10%), gevolg deur mynbou, verkeersdienste en lisensiëring met 9% elk en gesondheidsdienste met 4%. Omkopery, bedrog met aankope en die wanbestuur van geld was die vernaamste oortredings.
Lewis sê 29% van die korrupsie word gepleeg waar die nasionale regering betrokke is, wat ’n styging van 2% is vergeleke met die vorige jaar.
Plaaslike regerings word in 26% van gevalle uitgewys en provinsiale regerings in 20%. In 19% van die verslae word die vinger na die privaat sektor gewys.
Gauteng bo-aan die lys
Hy sê die meeste verslae oor korrupsie is uit Gauteng (47%) ontvang, gevolg deur KwaZulu-Natal (10%) en Limpopo (9%).
Dit is nie verbasend dat Gauteng met die meeste mense, die grootste ekonomie en as setel van die nasionale regering die meeste korrupsie het nie, sê Lewis.
Corruption Watch het verlede jaar sy fokus na meer betrokkenheid verskuif om korrupsie in die polisiediens, gesondheidsdienste en die mynbou te beveg.
Korrupsie in die polisiediens bly een van die probleme wat gedurig kop uitsteek en waaroor die gemeenskap gereeld kla. Magsmisbruik, omkopery en pligsversuim deur polisielede word uitgesonder.
Lewis sê die ineenstorting van die gesondheidsektor is die gevolg van korrupsie en verval wat oor jare plaasgevind het.
Corruption Watch is ’n aktiewe rolspeler in die teenkorrupsieforum vir die gesondheidsdienste wat verlede jaar deur pres. Cyril Ramaphosa geloods is.
Lewis sê die skrif is aan die muur vir diegene wat bygedra het tot die verval van die staat, die verkrummeling van staatsbeheerde instansies en die verrotting in kernsektore.