Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kragopteller rand glo jong student in Bfn aan

Die polisie in Bloemfontein ondersoek ’n saak van aanranding nadat ’n man, wat glo aan kragoptel-kompetisies deelneem, ’n 19-jarige student in vermoedelik ’n padwoedevoorval in die stad in haar motor gewurg en aangerand het.

Thobekile Mbhele, ’n sielkunde-student aan die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Verskaf

Die man se vrou, wat Saterdag nog aan die kragoptel-kampioenskap vir die Vrystaat en Noord-Kaap by die Windmill-casino deelgeneem het, het na bewering ook op die 19-jarige student geskree en haar selfoon en motorsleutel probeer gryp.

Thobekile Mbhele, ’n student wat sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat studeer, sê sy was Sondag omstreeks 11:30 op pad om haar jonger broer by die kerk in Heuwelsig te gaan haal toe die voorval gebeur.

Volgens haar het niks vooraf gebeur nie en het die man niks gesê voordat hy haar aangerand het nie.

“Ek het in Dan Pienaar-rylaan gery en by ’n rooi verkeerslig by die St. Andrew-skool gestop. ’n Rooi kar het agter my gestop en ’n man het by die passasierskant uitgeklim.

“My venster was oop, maar ek het nie gedink hy kom na my toe nie. Hy het my dadelik begin wurg en my aangerand,” sê Mbhele.

Volgens haar het sy haar selfoon op die passasiersitplek opgetel toe die man se vrou op haar afstorm en die selfoon uit haar hand probeer klap.

Die vrou het ook haar motorsleutel probeer gryp.

“Die man het weer teruggekom en gesê: ‘O, jy soek nog.’ Hy het my weer begin slaan. Ek was so geskok, ek kon niks sê nie. ’n Ander vrou het stilgehou en vir die man gesê om op te hou om my te slaan.

“Die man se vrou het vir dié vrou gesê sy kies my kant. Hulle het daarna in hul motor geklim en weggery. Die vrou het by my gebly totdat ek gesê het ek is veilig.”

Mbhele sê sy weet steeds nie wat sy gedoen het wat die paartjie so laat optree het nie, aangesien hulle geen interaksie vroeër gehad nie.

“As ek sleg gery het, kon hulle my gestop het en die polisie gebel het. Ek weet regtig nie wat ek gedoen het nie. Ek probeer dink wat ek verkeerd gedoen het. Ek het nie geweet hoe om te reageer nie.

“Nadat ek my broer opgetel het, het ek so begin bewe dat ek nie verder kon ry nie. Ek het tot by ’n vriend gery en my ouers gebel.”

Sy en haar ouers het daarna die voorval by die polisie aangemeld.

’n Vriend van Mbhele het later die vrou as ’n kragopteller geïdentifiseer.

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê die voorval word ondersoek.

Meer oor:  Thobekile Mbhele  |  Bloemfontein  |  Padwoede  |  Aangerand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.