Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Krakers gryp SA se howe

Kuberkrakers het die land se howe in hul greep en het waarskynlik reeds ’n geweldige hoeveelheid persoonlike inligting in die hande gekry.

Die senior advokate Tembeka Ngcukaitobi en Wim Trengove tydens ’n geding tussen AfriForum en die Nelson Mandela-stigting in die hooggeregshof in Pretoria in 2019. Foto: Felix Dlangamandla

Die departement van justisie het Donderdagmiddag, ná ’n week van chaos in die howe, oplaas erken dat dié departement die slagoffer van ’n gyselware-aanval was.

Die aanval kom net meer as ’n maand nadat die land se hawens verlam is deur wat as ’n daad van “kuberoorlogvoering” bestempel is.

’n Span interne en eksterne veiligheidsdeskundiges het sedert Woensdag onverpoos gewerk om die probleem by die departement op te los, maar sover Rapport kon vasstel, was die stelsel teen die einde van die hofdag op Vrydagmiddag steeds nie op dreef nie.

“Alle netwerk-gegronde regsdienste sal van lyn af bly terwyl die diag­nostiese werk voortduur,” het Chrispin Phiri, ’n woordvoerder van die departement van justisie, Woensdag in ’n verklaring gesê.

Hy het gesê elektroniese dienste in alle kantore van die departement is deur die krisis aangetas.

“Dit sluit in die uitreiking van magtigingsbriewe, borgdienste, e-pos en die departementele webwerf.”

Baie howe is erg ontwrig.

Die aanval het ’n massiewe uitwerking in die howe, waar elektroniese klankopnemers gebruik word om die verrigtinge op te neem. Dié opnames word dan op die departement se hoofraambediener afgelaai.

As dit nie gedoen word nie, kan sake nie voortgaan nie.

Steve Mahlangu, ’n woordvoerder van die departement van justisie, sê die departement het gebeurlikheidsmaatreëls ingestel om die howe aan die gang te probeer hou.

“Opnametoerusting wat met die hand werk, is uitgestuur om hofsake te laat voortgaan soos beplan. Ook die meester se kantoor gebruik tans ’n handgedrewe proses om aan families in rou die noodsaaklike dokumente te verskaf sodat hulle hul geliefdes kan begrawe.”

Maar aanklaers en ander hofpersoneel sê aan Rapport baie howe is erg ontwrig.

’n Direkteur van ondersteuningsdienste vir die Pretoria-streek het in ’n boodskap aan personeel van ’n “krisis” gepraat.

’n Senior amptenaar in die Pretoriase landdroshof sê die meeste sake is eenvoudig uitgestel.

“Baie masjiene (wat die verrigtinge in die howe opneem) kom nie aanlyn nie en dus kan hulle nie boek hou nie. Minder as die helfte van die masjiene kan wel gebruik word.”

Oor die handgedrewe opnamemasjiene sê ’n KwaZulu-Natalse aanklaer: “Elke hofsaak het ’n unieke URN-nommer wat die saak identifiseer. Met hierdie opnamemasjiene kan jy nie die URN, die saaknommer of selfs die beskuldigde se naam intik nie. So daar lê nou opnames landwyd rond waar niemand seker is watter saak is watter saak nie.”

’n Senior landdros van Gauteng het gesê van sy kollegas in Kaapstad, Oos-Londen en in Johannesburg “se howe sit inderdaad”.

Die opnamemasjiene kan wel inligting stoor voordat dit later na die bediener moet gaan, “maar die vrees is hoe lank die masjiene nog inligting kan stoor”.

Hy sê weens die landwye stelselprobleem kan personeel ook nie deur e-pos met mekaar kommunikeer nie. “Hulle gebruik hul selfone.”

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Herstrukturering- en Insolvensiepraktisyns het in ’n brief aan lede gesê “alle stelsels” in die kantore van die meester van die hooggeregshof “is af” en dis onbekend hoe lank dit gaan neem om dit te herstel.

’n Gautengse prokureur het aan Rapport gesê: “Met so ’n kuberaanval is daar miljoene stukke persoonlike inligting gelek. Die meester van die hooggeregshof se lêers bevat bankbesonderhede en seker toegang tot die voogdyfonds se sensitiewe begunstigdes.”

Die vrees is dat aanvallers die inligting op die donker web sou kon verkoop.

Mahlangu het gesê die stelsels is weens die aanval “geënkripteer en onbeskikbaar vir werknemers en die publiek”, maar daar is sover geen aanduiding dat data gesteel is nie.

Daaraan sluk Anna Collard, senior visepresident van inhoud by KnowBe4 Africa wat al meer as 20 jaar in die internet-veiligheidsbedryf werk, swaar. “Gyselware-misdadigers enkripteer jou data en dan, as jy nie die losprys betaal nie, is die volgende stap om jou data op die donker web vry te stel of aan ’n derde party te verkoop. So die departement se data móét in gevaar wees,” sê sy.

Adv. Glynnis Breytenbach, DA-woordvoerder oor justisie, sê die onderbreking is onaanvaarbaar. “As die stelsel onder kuberkrakers deurgeloop het, is dit ondenkbaar dat hierdie belangrike stelsel – wat van ons land se sensitiefste inligting huisves – enigsins kwesbaar genoeg is om sodanig beskadig te wees dat dit afgeskakel moet word.”

’n Gautengse prokureur sê van alle departemente behoort justisie die strengste inligtingsbestuur te hê en die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi) die strengste toe te pas.

Daaroor sê Collard: “Die Popi-wet is beslis problematies hier. As ’n groot maatskappy die slagoffer van kuberkrakers is, word hul stelsel baie streng deur die reguleerder ondersoek. En wie is die reguleerder? Die departement van justisie.”

Rapport het Dinsdag verneem daar was ’n kuberaanval op justisie se stelsel en dat die skade agter die staatsinligtingstegnologie-agentskap (Sita) se spermuur aan die departement se hoofraambedieners berokken is.

Tlali Tlali, kommunikasiehoof van Sita, het egter Dinsdag, Woensdag én Donderdag ontken dat enige van Sita se stelsels deur ’n kuberaanval binnegedring is. Vrydag was nie net justisie se webwerf nie, maar ook dié van die presidensie, die tesourie en binnelandse sake nie beskikbaar nie.

Tlali het gesê dié probleem is veroorsaak deur ondergrondse internetkabels wat Vrydagoggend beskadig is. Die webwerwe was volgens hom teen Vrydagaand weer aanlyn.

Hy het egter niks gesê van die toestand van die departement van justisie se stelsel of die feit dat die departement intussen erken het dat dit toe wel deur ’n kuberaanval lamgelê is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.