Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kriel stort hart uit oor plaasmoorde

Die voormalige Mej. Wêreld, Anneline Kriel, het haar stem gevoeg by diegene wat meer daadkragtige optrede teen plaasaanvalle vra.

Kriel (65) se boodskap van onderskraging aan slagoffers van plaasaanvalle is Vrydag op Facebook gedeel om saam te val met die plant van 62 nuwe wit kruise by Ysterberg in Limpopo. Die Witkruismonument is in 2004 gevestig toe nagenoeg 1 200 kruise opgerig is tussen Polokwane en Mokopane (Potgietersrus).

Lita Fourie, wat haar ouers 20 jaar gelede in ’n plaasmoord verloor het, en ’n span helpers het in Augustus aan opknappings aan die Witkruismonument begin werk. Dit het die plant van 62 nuwe kruise ingesluit. Ander kruise het ’n nuwe laag verf gekry of is regop gehelp.

“Hierdie monument is ’n sigbare beswaar teen die plaasmoorde in ons land,” het Fourie op Facebook geskryf.

Families ry van oor die land heen om hul kruis daar in die grond te kap.

’n Jaar gelede het Kriel self van die kruise aan familielede van slagoffers by die Witkruismonument gaan oorhandig.

“Vir party kan jy sien hoe die wond nog vars is, maar ek dink dit bied ’n mate van closure,” sê Kriel.

“Om die monument so naby te sien het my hart geruk, veral toe kinders vorentoe kom om ’n kruis te vat. Die seer het weergalm deur die bulte, ek weet nie hoe daai mense aangaan nie.” Vrydag het sy geskryf: “My hart gaan uit na hulle wat die naweek wéér moet kruise in die harde grond kap. Dit is verskriklik.

“Deur my brein flikker die gedagte: Ons boere en hul geliefdes verdien nie om so te sterf nie en hulle verdien dit nie om in vrees elke dag van hulle lewe te leef nie. Waar sal ons hulp vandaan kom? Ek vra pres. Ramaphosa om plaasmoorde ’n ernstige misdaad te maak en politici te muilband wat geweld teen boere en plaaswerkers uitlok.”

Ramaphosa, wat in 2018 op ’n besoek aan die buiteland ontken het dat moorde op wit boere plaasvind, het op 15 Julie by ’n imbizo oor Covid-19 gesê: “Die kwessie van plaasmoorde is vir ons ’n bron van groot kommer, net soos die moord op baie ander mense, insluitend vroue, in ons land.

“Almal wat vermoor word, bekommer ons geweldig, en plaasaanvalle is ’n kwessie waaroor ons bekommerd is.”

Die polisiestatistieke wys dat daar 49 plaasmoorde in die afgelope boekjaar was.

Volgens TLU SA was daar egter 59 plaasmoorde in die afgelope jaar, waarvan 19 plaasgevind het tussen 1 Januarie tot en met 28 Mei 2020.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, het verlede maand ook belowe dat ses gespesialiseerde polisie-eenhede gevestig sal word om aanvalle op plase te help bekamp.

Meer oor:  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.