Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kringtelevisie ingespan om moordenaars te soek
Die gesteelde Land Cruiser-bakkie wat Sondag verlate in die Toise-gebied aangetref is. Foto: Verskaf

Kringtelevisiebeeldmateriaal in landelike gebiede van die Oos-Kaap word nagegaan in ’n poging om die moordenaars van ’n boer op te spoor.

’n Soektog na twee of drie mense het Sondag begin nadat die lyk van Charles Hart (75) in sy huis op sy plaas in die Henderson-gebied naby Toise, tussen Stutterheim en Cathcart, gevind is.

Hart, ’n skaapboer wat alleen op sy plaas gewoon het, is vermoedelik Saterdagnag aangeval en vermoor. Die polisie vermoed hy is doodgeslaan.

’n Boer wat Sondagoggend by Hart op sy plaas gaan kuier het, het op die moordtoneel afgekom.

Kapt. Khaya Tonjeni, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie vermoed die aanvallers het geld gesoek.

’n Vuurwapen en Hart se Land Cruiser-bakkie is blykbaar al wat gesteel is. Die bakkie is later die Sondag verlate en uitgebrand langs ’n pad net buite Toise gekry.

Volgens ’n betroubare bron het Hart dié bakkie gebruik om sy skaapskeerders uit Edenburg, sowat 80 km suid van Bloemfontein in die Vrystaat, na sy plaas aan te ry.

“Hy het die hele bakkie omskep om die skeerders gemaklik en veilig op en af te karwei.

“Spesiale sitplekke met veiligheidsgordels en ’n seildakkie is aangebring. Hy was baie trots op die bakkie.”

Nog ’n bron het gesê Hart het sowat twee weke gelede ’n hewige uitval met ’n groep skaapskeerders gehad. Slegs die helfte van sy skape is geskeer voordat hy die mense teruggeneem het.

Dit is onduidelik waaroor hulle baklei het.

Die polisie kyk na die moontlikheid of dié uitval verband hou met die aanval op Hart, het Tonjeni gesê.

Alfonso van Niekerk, voorsitter van Agri Oos-Kaap se portefeuljekomitee vir landelike veiligheid, het Maandag gesê die polisie is besig om deur beeldmateriaal van Atlas Security se veiligheidskameras te gaan om moontlike leidrade te kry.

Atlas sal ook na beeldmateriaal van die omliggende gebiede kyk.

’n Werknemer van Atlas wat anoniem wil bly, het bevestig hulle gaan deur die beeldmateriaal, maar sê die ondersoek is te sensitief om verdere inligting bekend te maak.

Volgens Van Niekerk word ’n paar moontlike leidrade reeds opgevolg.

Hy het ook die aanval op Hart veroordeel.

“Agri Oos-Kaap veroordeel die aanval en moord op enige boer. Dit is kommerwekkend dat Suid-Afrika ’n wettelose land geword het waar onskuldige burgers aangeval en vermoor word.”

Van Niekerk het ook gewaarsku teen die verspreiding van vals foto’s wat as die moordtoneel op Hart se plaas voorgestel word.

Sake van moord en opsetlike saakbeskadiging word ondersoek.

Meer oor:  Plaasmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.