Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kringtelevisie: Só is klein Amy’Leigh ontvoer

Dit lyk of die wit Toyota Fortuner Maandagoggend voor die Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark gewag het op Angeline de Jager se voertuig.

Shakespeare-straat in Vanderbijlpark waar Amy’Leigh de Jager Dinsdag omstreeks 02:00 afgelaai en gevind is. Foto: Felix Dlangamandla

“Dit het op die sypaadjie by die skool gestaan. Mev. De Jager se voertuig kom in die straat verbygery en sy hou seker so 50 m verder stil.

“ ’n Mens kan op die beeldmateriaal sien hoe die Fortuner dan uittrek en ry na waar sy stilgehou het. Sy klim uit die voertuig met die kinders en dan word die meisietjie gegryp en die Fortuner jaag weg.”

Dit is hoe die toneel wat hom omstreeks 07:45 voor Amy’Leigh se skool afgespeel het, op kringtelevisiekamera vasgevang is, sê polisiebronne.

Van daardie oomblik af was dit ’n chaos van ’n histeriese ma wat haar seuntjie (5) by die skoolhek probeer indruk dat hy wegkom van die gevaar en mense wat nader storm.

“Die ma het net ’n beskrywing van die voertuig gehad, nie ’n registrasienommer nie. Ondersoekers het dadelik op die kringtelevisiekamera gaan kyk, maar die nommerplaat was nie sigbaar nie,” sê ’n ander bron.

Haar man, Wynand, was kort daarna op die toneel. Dit is waar hy een van vele oproepe gekry het waarin ’n losprys geëis is.

Luidens die bronne is die telefoon wat die vermeende ontvoerders gebruik het, wel nagegaan, maar dit blyk dat die foon nie Rica-geregistreer is nie.

“ ’n Burn-foon,” verduidelik ’n polisielid.

Hoewel die hotel in daardie straat bekend is, met ’n kroeg naby die ingang, is dit ’n ouer woonbuurt met vaal straatligte.

Verskeie polisie-eenhede is betrek, en lede van die buurtwag en gemeenskap het die strate help fynkam op soek na die verdagte voertuig. Informante en gyselaaronderhandelaars is betrek.

Vir sowat 19 uur was daar egter geen spoor van klein Amy’Leigh nie – totdat sy Dinsdagoggend 02:00 in Shakespeare-straat, steeds in Vanderbijlpark, afgelaai is en ’n man en vrou die huilende kind gevind het.

“Hoewel die hotel in daardie straat bekend is, met ’n kroeg naby die ingang, is dit ’n ouer woonbuurt met vaal straatligte. Voertuie jaag saans daar. Dis nie die beste plek of tyd om ’n kind af te laai nie,” sê ’n inwoner.

Vir Louise Horn, Angeline se tannie, is die belangrikste egter dat Amy’Leigh lewend gevind is.

“Wel, ek het later uit desperaatheid begin bid dat hulle haar net iewers aflaai waar iemand haar sal kry. As dit nie vir die Here was nie, het ons dit nie gemaak nie, want dit was die bangste bang wat ek nog gevoel het,” vertel die tannie van die tyd ná Amy’Leigh se verdwyning.

Dit was die moeilikste 19 uur van ons familie se lewe.

Wynand het Horn daardie Maandagoggend van die skool se sypaadjie af gebel.

“Hy was histeries. Hy het geskree: ‘Hulle het my kind gesteel! Wat doen daai monsters met my kind!’. Daardie bang, die vrees van waar is sy, wat doen hulle met haar… Dit was die moeilikste 19 uur van ons familie se lewe.

“Ek weet dit was 19 uur, want ek het dit getel. Eers dink jy hulle gaan vir Amy’Leigh voor donker kry. Dan raak dit donker. En later nag. Jy dink ’n uur is al verby, dan is dit net drie minute vandat jy laas gekyk het.

“En ek dink, sy het nie ’n truitjie nie. Kinders is bang vir die donker. Hoe bang moet Amy’Leigh nie wees nie,” sê Horn.

Sy het Maandag die boetie by die skool gaan oplaai, nadat die skoolsielkundige met hom gesels het. Hy is ’n gr. RR-leerling in dieselfde skool waar Amy’Leigh in gr. R is.

“Hy het kort-kort gesê ‘My sussie is weg’,” sê Horn.

Hy het by Horn oorgeslaap terwyl sy ouers verwese en hulpeloos by die polisiekantoor gewag het.

Toe kom die onbekende man en vrou met Amy’Leigh by die polisie aan, en sy soek haar boetie en ’n burger.

“Die gesin het my (ná die polisie en ’n mediese ondersoek) kom opklop en ons het vir Boetie wakker gemaak. Ai, daardie gesiggie toe hy so deur die slaap sy sussie sien! Hulle het mekaar vasgegryp en ons het sommer almal in trane uitgebars,” vertel Horn, en glimlag.

En slim, maar met die mooiste hartjie. Sy praat oor wat gebeur het.

Dinsdagaand het Boetie en Amy’Leigh tussen hul ma en pa geslaap. Elke keer as Angeline wakker word, het haar dogtertjie steeds haar hand vasgehou.

“Wynand en Angeline is skoolliefdes. Hierdie ding het hulle nog nader aanmekaar gebring. Wynand is openlik oor sy liefde vir sy gesin.

“Angeline is ’n amper oorbeskermende ma. Haar kinders slaap nie uit nie, gaan nie alleen parkie toe nie en gaan speel ook nie in ’n restaurant se speelplek alleen nie,” voeg Horn by.

Woensdagoggend was die gesin weer by die polisie. Hulle wou weer met Amy’Leigh gesels.

“Sy is ’n baie sterk kind met ’n sterk persoonlikheid. En slim, maar met die mooiste hartjie. Sy praat oor wat gebeur het.”

Angeline sê sy antwoord die polisie se vrae so goed sy kan.

Horn en ander familielede sê hulle het geen idee wat die motief vir die ontvoering kan wees nie.

Wynand en Angeline bespreek ook nie die besonderhede van die saak met iemand nie, omdat die ondersoek “so sensitief” is en hulle vrees dat iets dit kan benadeel.

Die familie

Terwyl die gesin hul voete probeer vind, probeer ander familielede hulle weghou van gerugte, samesweringsteorieë en vals nuus wat nou op sosiale media die ronde doen.

“Ons beleef ’n wonderwerk van Amy’Leigh wat terug is. Nou vra mense byvoorbeeld hoekom Angeline ‘so stadig’ op die video ry.

“Sy is by ’n skool. ’n Mens ry stadig by ’n skool. En sy wou stilhou om haar kinders af te laai. Natuurlik het sy nie gejaag nie,” wys Horn uit.

Daarby is daar mense wat misbruik maak van die situasie en beweer geld word vir Amy’Leigh ingesamel.

Sowel Horn as Quentin Venter, ook ’n familielid, sê duidelik: Hulle het nie eens vir geld gevra toe Amy’Leigh weg was en ’n losprys geëis is nie.

“Ons het vir mense gesê wag, die onderhandelaars is besig. Ons neem ons leiding van die polisie.

“Daar is nié ’n fonds vir haar nie. Ons soek geen geld nie,” sê Venter uitdruklik.

Hulle het wel die Facebookblad wat met Amy’Leigh se verdwyning geskep is, nou omskep in ’n blad vir ander vermiste kinders.

Venter sê dit is skokkend om te besef hoeveel klein kindertjies vermis word.

“Toe Amy’Leigh wegraak, het ek ’n boodskap gestuur vir elkeen wat ek ken. Amy’Leigh se gesig en die omstandighede was oral oor die land heen.

“Nou hoor ons vir die eerste keer van klein kindertjies wat al maande weg is. Die ‘Amy’Leigh’s Missing Kids’-blad het binne 24 uur meer as 90 000 volgelinge gekry en ons vra mense: deel, deel, deel, want dit is al hoe jy almal van ’n vermiste kind bewus gaan maak,” sê Horn.


Meer oor:  Amy’Leigh De Jager  |  Vanderbijlpark  |  Kringtelevisie  |  Vermis  |  Ontvoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.