Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Krion-baasbrein se eksman kry parool

Twee van die mense wat betrokke was by die Krion-bedrogspul, waardeur meer as 14 000 beleggers met altesame R1,5 miljard ingeloop is, is op parool vrygelaat.

Burt Prinsloo

Die 77-jarige Burt Prinsloo is ’n week voor Kersfees vrygelaat, en Izabel Engelbrecht op 18 November. Albei moet onder toesig gemeenskapsdiens verrig, totdat die res van hul vonnisse van 12 jaar verstryk.

Cobus Pelser, ’n derde lid van die Krion-misdaadfamilie, is in 2017 vrygelaat. Rapport het destyds berig hy doen los werkies in die boubedryf om die pot aan die kook te hou.

Prinsloo was die derde man van Marietjie Prinsloo, die sogenaamde “baasbrein” van die Krion-ponziskema, een van die land se grootste misdaadondernemings.

Vandag nog oorleef talle slagoffers net danksy sopkombuise.

Haar onderneming, Krion Financial Services, het hom sedert Maart 1998 hoofsaaklik toegespits op yster- en staalwerkers in die Vaaldriehoek wat pensioenuitbetalings gekry het. Beleggers het miljoene by Prinsloo belê en aanvanklik ruim dividende gekry, sodat hulle haar selfs die “Engel van die Vaal” genoem het.

Sowat 28% van die beleggers was tussen 50 en 97 jaar oud.

Toe het die uitbetalings begin opdroog.

Krion is in Julie 2002 gelikwideer. In 2010 het die hooggeregshof in Pretoria die groep direkteure skuldig bevind en gevonnis op verskeie aanklagte, waaronder diefstal en bedrog.

Izabel Engelbrecht (links)

Marietjie het 25 jaar tronkstraf gekry; haar dogter Yolande Lemstra, asook Burt en Izabel Engelbrecht elk 12 jaar; Lemstra se man, Gerrit, 15 jaar en Pelser (Marietjie se seun) vyf jaar.

Hul appèl teen die vonnisse het vyf jaar later misluk.

Intussen het van die slagoffers in armoede verval, party het alles verloor en sommiges het selfs hul eie lewe geneem. Vandag nog oorleef talle net danksy sopkombuise en welsynsorganisasies.

Burt Prinsloo was Vrydag nêrens te sien met Rapport se besoek aan die huis van sy suster Mari Theron in die Strand nie. ’n Vrou wat by die hoofhek gestaan het, het gesê hy sal “nooit” praat nie. “Hy is oud. Die saak het nou gebeur en dis verby.”

Logan Maistry, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), het aan Rapport gesê die besluit oor Prinsloo se parool is geneem nog voordat pres. Cyril Ramaphosa op 16 Desember die vroeë vrylating van sekere gevangenes aangekondig het.

Volgens Maistry kom Burt Prinsloo wel in aanmerking vir afslag van 24 maande en sal sy vonnis op 10 Junie 2024, pleks van twee jaar later, verval. Hy sal die oorblywende deel van sy vonnis onder korrektiewe gemeenskapsdiens uitdien en ingevolge die paroolvoorwaardes gemonitor word.

Marietjie Prinsloo dien haar vonnis in die Nelspruit-gevangenis uit.

Só werk die kwytskelding

Ronald Lamola, minister van korrektiewe dienste, het aangekondig geweldsmisdadigers wat byna die minimum vereiste tyd in die tronk uitgedien het om vir parool in aanmerking te kom, kry 12 maande afslag op hul tronkstraf. Misdadigers in die laerisiko-kategorie kry 24 maande afslag.

Volgens hom is 71,3% van die misdadigers wat vir kwytskelding oorweeg word, reeds op parool en voorwaardelike vrylating (probation) buite die tronk.

Die voorwaardes waaronder hulle vrygelaat is, verval nie. Hulle moet steeds die res van hul vonnis onder parool of voorwaardelike vrylating uitdien tot dit verstryk. As so ’n persoon dus 12 of 24 maande afslag kry op hul vonnis, geld die voorwaardes dus totdat die (korter) vonnis verstryk. Mense wat voorwaardelike vrylating kry, het ’n vonnis gekry wat nie tronkaanhouding behels nie, soos ’n boete en gemeenskapswerk. Jeanne-Marié Versluis

Meer oor:  Bedrog  |  Piramideskema
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.