Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Krion: Talle suig nog aan agterspeen

Veertien jaar nadat die ­Krion-bom gebars het, word beleggers steeds gedagvaar om hul “winste” terug te betaal – maar niemand behalwe die likwidateurs en regslui vind hierby baat nie.

Die jongste voorlopige likwidasie- en distribusierekening van die Krion-skema wys presies hoe hopeloos die situasie is.

Van die R1,7 miljard – hoofsaaklik kontant – wat in die skema rondgevlieg het, het die likwidateurs ’n skamele R3,7 miljoen by die Krion-skelms terug- ­gekry.

Die likwidateurs het fluks begin om beleggers wat reeds hul beleggings verloor het, te dagvaar vir die rente wat hulle ontvang het terwyl die piramideskema nog gewerk het.

Luidens die likwidasie-rekening het die likwidateurs R99 miljoen by beleggers ingevorder. Rapport het deur die jare berig dat verskeie beleggers hul laaste besittings kwyt was weens die regstappe teen hulle.

Maar die R99 miljoen is gouer uitgedeel as wat dit ingekom het. R74 miljoen hiervan is aan regslui betaal vir hul werk om beleggers op te skroef.

Die likwidateurs het nóg byna R10 miljoen daarvan gekry omdat hulle geregtig is op 10%- kommissie.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) was volgende in die tou om R4 miljoen te vat.

Daar is tans R8,5 miljoen in die boedel oor om verdeel te word, maar die likwidateurs het reeds voorsiening gemaak vir hul verdere tariewe.

Dít terwyl daar 7 090 eisers wag om hul altesame R414 miljoen terug te kry.

“Dit is ’n skreiende skande wat hier gebeur het.

“Die beleggers wat al die jare op ’n uitbetaling wag, gaan nie ’n sent kry nie,” sê André ­Prakke, ’n forensiese ouditeur wat die likwidasierekening bestudeer het.

Volgens Prakke het die likwidateurs en hul regslui in die eerste drie maande nadat die skema in Junie 2002 gelikwideer is, 35 agente van die skema se boedels gesekwestreer.

Met nog 20 ander is terugbetalingsreëlings getref.

Ingevolge die bepalings van die Insolvensiewet word sekere eisers – soos die likwidateurs, die regslui en die SAID – as voorkeureisers beskou.

Dit beteken dat hoewel Krion se boedel nog nie afgehandel is nie omdat daar nog hangende eise teen beleggers is, die geld reeds op is.

“Dit is ’n klugspul. In al die aansoeke wat voor die howe gedien het, is aangevoer die geld word ingevorder sodat dit gegee kan word aan diegene wat niks gekry het nie,” sê Prakke.

Volgens hom is dit oneties om 14 jaar nadat Krion gelikwideer is, steeds geld in te vorder van beleggers wat “rente” ontvang het.

“Hoe lank wil die likwidateurs nog aanhou met die eise?” wil Prakke weet.

Intussen het die meester van die hof se kantoor in Pretoria die afgelope twee weke nie Rapport se vrae beantwoord oor hoe lank dié situasie nog toegelaat gaan word om voort te sleep nie.

Anthony Millar, president van die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies, sê op sy beurt hy het nog nooit in sy loopbaan van oor die 22 jaar van sulke hoë regskoste gehoor nie.

“Dit beteken die enigste mense wat daarby baat vind, is die likwidateurs en die regslui,” sê hy.

Marietjie Prinsloo, die meesterbrein agter ­Krion wat ook as die “Engel van Vanderbijl” bekend gestaan het, is verlede jaar uiteindelik tronk toe ná ’n mislukte appèl teen haar vonnis van 25 jaar tronkstraf.

Ander familielede dien ook vonnisse van tussen 5 en 15 jaar tronkstraf uit.

scarstens@rapport.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.