Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kroonstad-boere radeloos oor honde wat vee, wild verskeur
Alit Steyn, wat buite Kroonstad met skape boer, het Woensdag met die karkasse van twee verskeurde skape in die dorp gestaan sodat mense kan sien hoeveel skade boere ly. Foto: verskaf

’n Boer van die Kroonstad-omgewing het Woensdagoggend uit radeloosheid in die dorp gaan parkeer met die karkasse van twee dragtige skaapooie wat op sy bakkie gedrapeer is om die aandag te vestig op die skade wat honde boere berokken.

Alit Steyn, wat net buite die dorp naby Bloemhoekdam boer, sê hy en van sy bure is al moedeloos oor die skade wat hulle weens rondloperhonde ly.

Hy sê hy gebruik van die skape se geld om sy ma se verblyf in ’n ouetehuis te betaal, maar het nou soveel skade gely dat hy nie meer weet hoe hy sy verpligtinge gaan nakom nie.

“Die polisie sê ons mag nie die honde skiet nie en die dierebeskermingsvereniging sê hulle kan nie optree as hulle nie weet wie se honde dit is nie.”

Steyn sê die skape is flenters geskeur. Daar is mense in die omgewing wat met die honde jag, maar soms jag die honde op hul eie en as boere skade ly, weet niemand aan wie die honde behoort nie.

“Ek is net bly die honde het nie Woensdagoggend tussen my seun se stoetskape ingevaar nie,” sê hy.

“Daar is ook mense wat hul skape by ons weiding injaag en as jy die polisie bel, dan vra hulle of ons wil hê hulle moet die skape in hegtenis neem,” sê hy.

“Mense weet nie waarmee ons as boere te make het nie.”

Daar is ook mense wat hul skape by ons weiding injaag en as jy die polisie bel, dan vra hulle of ons wil hê hulle moet die skape in hegtenis neem.

’n Buurman van Steyn, Frikkie Geyser, sê hy het al sewe springbokke verloor en sy skape loop ook gereeld onder die rondloperhonde deur.

Hy sê die honde veroorsaak groot skade, maar niemand weet ooit waar die eienaars is nie.

“Ek glo armoede speel ook ’n rol; van die mense ly honger en so ook die honde. Ons het al van die honde geskiet.”

Die polisie daag nie eens op as hulle bel nie, sê hy.

Cobus Taljaard, ook ’n boer, sê die honde jag op hul eie en die eienaars het geen beheer oor die honde nie.

Mense weet nie waarmee ons as boere te make het nie.

Taljaard sê veral op een deel van sy plaas tel hy gereeld verskeurde wildsbokke in die veld op.

Hy sê boere is bang om die honde te skiet, want dan beweer die eienaars die boere het op hulle geskiet.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, sê boere moet klagte aanhangig maak, anders kan die polisie nie die bewerings ondersoek nie.

Van die springbokke wat op Frikkie Geyser se plaas verskeur is. Foto: verskaf
Een van die verskeurde skape Foto: Verskaf

Meer oor:  Vee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.