Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kroonstad: Inwoners betoog omdat hulle nie antwoorde kry

Twee mense is Woensdag in Kroonstad in die Vrystaat vir openbare geweld aangekeer nadat ’n groep inwoners van die Brentpark-woonbuurt vroegoggend opgeruk het om teen swak dienslewering te betoog.

’n Klein groepie ontevrede inwoners het die pad na die nywerheidsgebied met brandende buitebande, klippe en rommel versper.

Dit kom nadat hulle glo nie terugvoering van Motshidisi Koloi, burgemeester van die Moqhaka-munisipaliteit, gekry het op ’n grieweskrif wat hulle sowat twee weke gelede ook tydens ’n betoging aan haar oorhandig het nie.

Die polisie Woensdagoggend op die toneel waar ontevrede inwoners van Brentpark in Kroonstad betoog.Foto: Izeth Wessels/Kroonstad

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê twee mense is vir openbare geweld in hegtenis geneem en sal na verwagting Donderdag in die hof verskyn.

Koloi moes terugvoering aan die inwoners gee oor hul griewe oor onder meer krag- en wateronderbrekings, die rioolprobleem sowel as werkgeleenthede en projekte waarvan hulle glo uitgesluit word.

Sy het versuim om dit te doen en daarom het die inwoners weer die strate ingevaar om te betoog.

Dika Kheswa, munisipale woordvoerder, sê dit is nie waar dat die burgemeester nie terugvoering gegee het nie, omdat hulle reeds met gemeenskapsleiers sowel as die betrokke raadslid vergader het. Die munisipaliteit het ook al begin werk maak van die inwoners se griewe.

Inwoners van Brentpark het Woensdag brandende buitebande, klippe en rommel gebruik om die pad te versper. Foto: Izeth Wessels/Kroonnuus

Volgens Kheswa het die inwoners geldige kwessies in hul grieweskrif uitgelig en is Koloi sewe dae gegee om daarop te antwoord. Die grieweskrif het kort-, middel- en langtermynkwessies waarop die munisipaliteit moet fokus.

“In terme van die korttermynkwessies wat hulle genoem het, soos die onderbrekings in water- en elektrisiteitsverskaffing, het ons al oplossings gevind en ons kyk nou veral na die langtermynkwessie van watervoorsiening. Slaggate en die rioolprobleme het ook aandag gekry, hoewel daar nog hier en daar probleme is.

“Al die probleme wat val onder die munisipaliteit kry aandag en ons het ’n plan aan die inwoners gegee oor hoe en teen wanneer ons die probleme gaan oplos,” sê hy.

’n Groep inwoners van Brentpark in Kroonstad betoog Woensdag omdat hulle nog nie terugvoering gekry het oor hul griewe oor swak dienslewering nie. Foto: Izeth Wessels/Kroonnuus

Volgens hom sal die munisipaliteit ook aandag gee aan ander griewe soos misdaad in die omgewing, en hoewel dit nie in die munisipaliteit se vermoë val nie, sal hulle op provinsiale vlak met die betrokke rolspelers praat.

Die munisipaliteit sal ook kyk na munisipale projekte wat die inwoners sê hulle nie van deel is nie.

Volgens Kheswa is Brentpark deel van Kroonstad en die Moqhaka-munisipaliteit en deel hulle in dieselfde dienslewering en projekte as ander gebiede. Die woonbuurt se uitdagings is dieselfde as dié van ander gebiede, sê hy.

Kheswa sê dit lyk ook asof Woensdag se betoging deur ander leiers aangevoer is as die eerste een.

’n Man pak nog buitebande om die pad te versper tydens die inwoners van Brentpark se betoging.Foto: Izeth Wessels/Kroonnuus
Meer oor:  Kroonstad  |  Betoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.