Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kuberkraker maak egpaar se bankrekenings leeg

’n Egpaar van Bredasdorp se bankrekenings is deur ’n kuberkraker leeggemaak.

Die 60-jarige vrou sê haar 63-jarige man het in Junie afgetree en van sy pensioengeld ontvang.

Volgens die vrou is sy en haar man se FNB-bankrekening op 26 Augustus “gekaap”. Haar man het ’n verdagte oproep van FNB se “bedrogafdeling” ontvang oor iemand wat kwansuis met die rekening gepeuter het. Dit het later geblyk dit was die kuberkraker self wat gebel het.

Haar man is na FNB waar dit toe blyk dat die geld in sy tjekrekening na die kredietkaart oorgeplaas is.

Volgens hulle het die kuberkraker hul Capitec-spaarrekening se nommer in hul profiel van begunstigdes gesien. Hulle plaas elke maand geld na dié rekening oor.

Ten spyte daarvan dat die rekening glo gevries is, het al die transaksies egter die Maandagnag deurgegaan en die geld het uit die rekening verdwyn.

Uit die kredietkaart is al die FNB-geld toe met nege transaksies van R20 000 elk na ’n Capitec-spaarrekening oorgeplaas.

Die man het geen SMS of e-posboodskap van die bank oor die transaksies ontvang nie, en die daaglikse limiete is almal verander. By FNB het hy vir die eerste keer gesien dat sy Capitec-rekening hiervoor gebruik is.

FNB het al die rekeninge gevries en die egpaar het ’n polisieverklaring gaan aflê. Volgens die egpaar ondersoek die bank se bedrogafdeling nog die saak en word die geld van Capitec teruggeëis, maar hulle weier, volgens die egpaar.

Die man is na die plaaslike Capitec-tak en het vasgestel dat die skelm in sy rekening doenig is.Die man sê hy het nie die betrokke dag enige  nie selfoon- of internetbankdienste van Capitec gebruik nie. Geen SMS of e-posboodskap is ontvang oor die transaksies wat aan die gang was nie.

Volgens die egpaar het hulle geen kode of pinnommer aan enigiemand verskaf nie. Die Capitec-rekening word slegs vir spaargeld gebruik.

Die kraker het R220 681 met ses oorplasings na ’n bank in Moembai gedoen. Alles het binne twee uur gebeur.

Capitec se personeel het die bedrogafdeling gebel en dié het die rekening gevries. “Ons het gevra hulle moet die transaksies ‘reverse’, maar hulle sê toe hulle moet eers ondersoek instel.”

Die egpaar is elke dag na die bank om te kyk of die geld nog daar is, en het ook self die bank se bedrogafdeling gebel. Die geld was steeds in die rekening.

Die Vrydag het die kraker weer gebel en gevra waarom die rekening gevries is. Die man is Capitec toe en die geld was nog daar.

Ten spyte daarvan dat die rekening glo gevries is, het al die transaksies egter die Maandagnag deurgegaan en die geld het uit die rekening verdwyn.

* Die egpaar wil anoniem bly uit vrees dat hulle verder geteiken kan word.

Die dispute

Volgens die man het Capitec in sy eerste terugvoering per foonoproep gesê dat hy self die transaksies op 26 Augustus goedgekeur het, volgens hul rekords, en dat hy self die bank in Indië moet kontak om die geld te terug te kry (dié bank se besonderhede is aan hom gegee).

Die man het ’n tweede dispuut by Capitec aanhangig gemaak. Die egpaar vra hoe die geld ná ses dae steeds uit die rekening kon verdwyn nadat die rekening gestop is. Hulle het weer ’n brief van Capitec se bedrogafdeling ontvang waarin hulle weer meegedeel is hulle het die transaksies self goedgekeur, maar geen antwoord is glo gegee oor hoekom die geld uit die rekening wat gestop is, verdwyn het nie.

Volgens die egpaar het hulle ook die saak na die ombudsman vir bankdienste verwys.

Capitec antwoord

’n Woordvoerder van Capitec sê die bank is bewus van die egpaar se saak.

“Bedrog het by ’n ander bank ontstaan, wat deurgegaan het na die kliënt se Capitec-rekening.

“Bedrae uit die Capitec-rekening is onttrek met kaarttransaksies wat aanlyn gedoen en betaal is. Die kaarttransaksies is almal gedoen voordat die kaart gestop is en is deur die kliënt self goedgekeur.

“Sommige kaarttransaksies word wel later administratief geprosesseer as die transaksie self. Geen transaksies het deurgegaan nadat die kaart gestop is nie.

“Capitec sal hom berus by die uitspraak van die Ombudsman.

“Die bank benadruk dat kliënte nie persoonlike inligting telefonies bekend maak nie.”

Meer oor:  Bredasdorp  |  Bankrekenings  |  Kuberkraker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.