Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kuberkrakers steel meer as R1,7 miljoen

Kuberkrakers het R1,7 miljoen in die hande gekry wat ’n prokureursfirma vir ’n Pretoriase sakeman moes bewaar.

André Fourie het onlangs ’n hofbevel bekom dat die regsfirma van Nicola van der Spuy en Ludwig de Jongh in Pretoria dié bedrag plus rente aan hom moet terugbetaal.

Maar Van der Spuy en De Jongh wil appelleer, want volgens hulle was dit nie aan hul nalatigheid te wyte nie.

Dit blyk Fourie se e-pos is gekaap.

Van der Spuy en De Jongh voer aan toe hul firma betaalopdragte met nuwe bankbesonderhede van Fourie se e-pos-adres gekry het, het hulle gedink dis hy wat dit stuur.

Waarnemende regter Matthew Klein het in die hooggeregshof in Pretoria bevind as Van der Spuy slegs by Fourie vasgestel het of die nuwe besonderhede reg is, “sou die bedrog eenvoudig nie plaasgevind het nie”.

Fourie, van Montana, sê in hofstukke hy het Van der Spuy en De Jongh as aktebesorgers in ’n eiendomstransaksie gebruik.

Die opbrengs van net onder R4 miljoen is in hul trustrekening betaal.

Fourie sê hy het dadelik gevra van watter geld sy praat.

Die firma het ingestem om sy geld in ’n beleggingsrekening te hou en bedrae uit te betaal as hy dit vra.

Fourie sê toe hy in April 2018 met Van der Spuy oor iets anders oor die foon praat, het sy terloops gepraat van sekere bedrae wat hy aangevra het en wat nog uitbetaal sal word.

Volgens Fourie het hy dadelik vir haar gesê daar is ’n ernstige probleem, want hy het nie dié opdragte gestuur nie.

Van der Spuy het toe gesê sy het sedert 20 Maart 2018 verskeie ander opdragte vir uitbetaling van hom gekry.

Dis toe dat die bedrog ontdek is.

Ses bedrae wat wissel van R285 000 tot R750 000 is tot 17 April 2018 uitbetaal. Net twee van die bedrae is later teruggekry, sê Fourie.

Die hof het die firma beveel om Fourie R1 744 599 plus rente, asook sy regskoste te betaal.

William Tintinger, Fourie se prokureur in die saak, het aan Rapport gesê regspraktisyns, veral aktevervaardigers, word toenemend blootgestel aan kubermisdaad. Hy sê regspraktisyns word as ’n algemene reël nie deur die Getrouheidswaarborgfonds gedek teen skadevergoedingseise wat uit kubermisdaad spruit nie.

“Dit word van regspraktisyns verwag om van aangesig tot aangesig met ’n kliënt te praat om die egtheid van ’n bankrekening te staaf. Die oorspronklike dokument van die bank wat die eienaarskap van die bankrekening bevestig, moet ook aan die regspraktisyn voorsien word.”

Hy sê prokureurs kan net aanspreeklikheid vir sulke skadevergoedingseise vermy deur eers die identiteit en bankbesonderhede van die persoon wat geld aanvra, te bevestig.

Die Prokureursorde van Suid-Afrika (LSSA) het in September riglyne teen kubermisdaad gepubliseer. Die LSSA sê prokureurs behoort ’n versekeringspolis teen kuberdiefstal uit te neem. Hulle moet hul personeel deurlopend oplei. Prokureurs moet toesien dat hul personeel nie “click happy” is nie. Personeel moenie aanhangsels van onbekende mense oopmaak of onbekende webtuistes besoek nie. Die sagteware moet altyd op datum wees. Wees bedag op verdagte e-posse en telefoonoproepe. Rekenaars, tabletrekenaars, skootrekenaars en selfone moenie onbeman gelaat word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.