
'n Brandbestryder in Kuruman probeer die vlamme blus.
Die polisie in die Noord-Kaap se forensiese kenners op die gebied van brande ondersoek die voorval waarin Kuruman se stadsaal Woensdagmiddag in puin gelê is.
Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê lede van die Kuruman-polisiekantoor en die brandweer is omstreeks 16:00 na die kantore van die Ga-segonyana-munisipaliteit ontbied nadat rook by die stadsaal gewaar is.
“Dit is in dié stadium nog onbekend hoe die brand ontstaan het. Die deskundiges ondersoek nou wat die oorsaak kon wees,” sê Tawana.
Volgens Paul Marais, lid van die Kuruman-Afriforumbuurtwag, het lede van die buurtwag toevallig die rook gesien en die nooddienste en polisie ontbied.

Die brand wat Woensdag omstreeks 16:00 by die stadsaal ontstaan het, het binne minute in ’n vlammehel ontaard.
“Ons het ook ons eie brandspan geaktiveer wat die brandweer bygestaan het om die brand te probeer blus,” sê Marais.
Volgens hom het die brand geweldig vinnig versprei en was die stadsaal binne minute in ’n vlammehel gehul wat die gebou voor hul oë verswelg het.
Die brand het Woensdag ná 18:00 steeds gewoed, maar dit is later geblus.
Dele van die aangrensende munisipale geboue is ook in die brand beskadig.
Die munisipale kantore was Donderdag gesluit en amptenare kon nie vir kommentaar oor die omvang van die skade bereik word nie.