Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kuruman-polisie verander werkwyse om diens te verbeter

’n Aanval helderoordag in die middedorp van Kuruman – waarvan videomateriaal wyd op sosiale media gedeel is – het daartoe gelei dat die polisiekantoor sy werkwyses gaan verander sodat hy beter funksioneer.

Die veranderings volg op ’n vergadering tussen genl.maj. Johan Bean, gebiedsbevelvoerder, kol. Ben Phete, hoof van misdaadvoorkoming van die Kuruman-polisiekantoor, Braam van der Westhuizen, DA-raadslid in Kuruman, Willie Aucamp, DA-kiesafdelingshoof in die Kalahari, en Paul Marais, voorsitter van die AfriForum-buurtwag in Kuruman.

Hulle het vergader nadat Giep Niemann (65) op 10 Oktober in die middedorp deur vier mans aangeval en beroof is.

Vier mans val Giep Niemann (65) in Kuruman se besige middedorp aan. Foto: Skermgreep

Die voorval is op video vasgevang en het, ná die plasing daarvan op sosiale media, hewige reaksie ontlok.

Aucamp sê daar is op die vergadering ooreengekom op praktiese maatreëls wat onmiddellike toegang tot wetstoepassing en polisiëring sal verbeter.

Daar is besluit dat die polisie se funksie van die sertifisering van dokumente en die afneem van beëdigde verklarings, wat gewoonlik baie lang rye wat stadig beweeg in die Kuruman-polisiekantoor tot gevolg het, na ’n alternatiewe gebou geskuif sal word.

“Dit sal die polisie se dienste toegankliker maak en slagoffers aanmoedig om misdaad aan te meld. Dit is van kritieke belang, want as misdaad nie aangemeld word nie, word statistieke skeefgetrek. Dit beïnvloed weer die toewysing van bronne aan polisiekantore.”

Aucamp sê die DA het hom daartoe verbind om te help met die werwing van gemeenskapslede as polisiereserviste.

“Dit is belangrik, want vir elke ekstra polisiereservis wat kan help met take soos om telefone te beantwoord, kan daar ’n ekstra polisiebeampte op straat wees om misdaad te bekamp en misdadigers vas te trek.”

Hy sê die DA sal deurlopend druk op Bheki Cele, minister van polisie, uitoefen om te verseker dat vakante poste dringend gevul word en die ernstige tekort aan operasionele polisievoertuie in Kuruman en in die provinsie aandag kry.

“Ek sal blootstelling aan hierdie uitdagings gee deur parlementêre vrae te vra en ander parlementêre kanale te gebruik om verandering te bewerkstellig.”

Die DA maak ook werk daarvan om die samewerking tussen alle veiligheidsektore in die bekamping van misdaad te verbeter.

Aucamp sê Bean het ingestem om ’n vergadering tussen die DA, die polisie en veiligheidsmaatskappye in Kuruman te reël.

Hy sê omdat die Ga-Segonyana-munisipaliteit nie munisipale verordenings afdwing nie, word ’n ekstra las op die polisie geplaas.

“Ek en raadslid Braam van der Westhuizen, saam met genl.maj. Bean, beplan ’n vergadering met die munisipaliteit om ’n oplossing hiervoor te vind. Misdaad is almal se probleem en slegs deur saam te staan, kan ons veiliger gemeenskappe bou.”

Meer oor:  Polisie  |  Kuruman  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.