Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KwaZulu-Natal: Politici, sakelui gesoek oor ‘terreur’

Hoëprofiel-individue, onder wie politici en sakelui, word gesoek in verband met die aktiwiteite van ’n misdaadbende wat die mense van Pietermaritzburg reeds ’n geruime tyd volgens die polisie "terroriseer".

So sê lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, provinsiale polisiekommissaris, in ’n verklaring nadat die polisie die naweek nog vier vermeende bendelede in hegtenis geneem het.

Die vier sal Maandag in die plaaslike landdroshof verskyn op voorlopige aanklagte wat moord, roof, verkragting en aanranding kan insluit.

“Die Pietermaritzburg-distrik word oorval deur moordsake wat deur hierdie bende gepleeg word. Ons sal nie rus voordat almal agter tralies is nie. Ons operasies duur voort en almal, ook hoëprofiel-individue, onder wie sakemanne en politici, sal aangekeer word. Ons sal nie rus totdat vrede en stabiliteit in ons provinsie herstel is nie,” sê Mkhwanazi.

Bheki Cele, minister van polisie, sê in ’n afsonderlike verklaring oor die inhegtenisnemings hy neem kennis van die polisie in KwaZulu-Natal se optrede, veral in die Pietermaritzburg-gebied, om misdadigers in hul skuilplekke op te spoor.

Hy het beaam dat die betrokke bende ’n terreurveldtog voer, en sê deurbrake soos hierdie herstel die hoop van die gemeenskap wat onder hierdie genadelose misdadigers se boosheid deurgeloop het.

"Dit is vir die ministerie van polisie bemoedigend dat die betrokkenes gejag en aangekeer word.” 

Die polisie het verlede week sewe bendelede doodgeskiet wat hulle gedurende ’n polisieklopjag op ’n huis teëgesit het. ’n Taakspan van die polisie het die vier mans, wat tussen die ouderdomme van 18 en 30 jaar is, Sondagoggend in ’n lodge in Woodhouse-weg aangekeer.

Die lodge is naby die huis in Fairfieldlaan, waar die klopjag op Dinsdag 1 Junie uitgevoer is.

Die polisie soek na nog verdagtes. Hulle het ’n wenk ontvang oor waar van die bendelede wegkruip, sê kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder.

Elkeen van die verdagtes het glo ’n onwettige vuurwapen met ammunisie in hul besit gehad.

Sy sê die mans word met ’n reeks moorde in die Pietermaritzburg-, Imbali-, Richmond- en Bergville-gebied verbind.

Volgens Mbele word die mans ook in verband met verkragting, roof en aanranding in hierdie gebiede gesoek.

Soos vroeër berig, was die vermeende baasbrein van die bende een van die sewe wat in die polisieklopjag doodgeskiet is.

Die man was in April vanjaar een van ’n groep verhoorafwagtendes wat ontsnap het toe vyf gewapende mans toegeslaan het op ’n polisievoertuig wat op pad hof toe was.

Die voertuig is voorgekeer en die slotte agter is met ’n boutsnyer oopgeknip.

skietvoorval pietermaritzburg
Voertuie van die nooddienste en polisie in die straat voor die huis in Scottsville, Pietermaritzburg, waar die polisie verlede week sewe vermeende bendelede doodgeskiet het. Foto: Moeketsi Mamane/The Witness

Meer oor:  Pietermaritzburg  |  Misdaad  |  Gevangenis  |  Moord  |  Ontsnap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.