Nuwe skootrekenaars van sowat R4 miljoen is Dinsdag in die vroeë oggendure uit ’n regeringskantoor in Polokwane gesteel.
Die vier rowers het die 185 skootrekenaars op trollies uit die gebou op die hoek van Schoeman- en Jorissenstraat gestoot voordat dit in die onderdakparkeerterrein van die gebou op ’n bakkie gelaai is.
Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die skootrekenaars is uit die kantoor van die departement van landelike ontwikkeling gesteel.
Op geslotekringtelevisie-materiaal kan gesien word hoe ’n donker Toyota-bakkie by die onderdakparkeerterrein inry. Die diewe kan ook gesien word waar hulle rondsluip naby ’n deur wat na die kantoorgebou lei.
Volgens Mojapelo is die twee veiligheidswagte wat aan diens was glo deur die vier rowers oorrompel. Hulle is glo vasgebind en in ’n vertrek in die gebou toegesluit.
Mojapelo sê die rowers is toe na die kantoor van een van die direkteure waar die skootrekenaars gebêre is.
Nadat hulle die rekenaars op die bakkie gelaai het, het hulle doodluiters by die parkeerterrein uitgery.
Mojapelo sê die veiligheidswagte is nie gedurende die voorval beseer nie.
Die SAUK berig die skootrekenaars sou glo aan werknemers verskaf word sodat hulle volgens die Covid-19-regulasies nie op kantoor hoef te werk nie.
Die polisie ondersoek ’n klag van sakeroof.
Enigiemand wat inligting het wat die polisie kan help om die rowers in hegtenis te neem, kan sers. Maphutha Ngoepe by 082 685 9607 of kol. Linkie Mathebula by 064 767 8218 bel.