Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: 47 000 misdadigers vry sonder DNS-toets

Bheki Cele, minister van polisie, kon gekeer het dat meer as 47 000 misdadigers vrygelaat word voordat hul DNS-monster geneem is deur ’n reeds bestaande konsepwet by die parlement in te dien.

Die konsepwet, waarvan Rapport ’n afskrif bekom het, bestaan reeds jare lank en was bestem om ’n voorlopige oorgangswet te vervang wat in Januarie 2017 verval het.

Sedertdien 2017 is meer as 47 000 ernstige misdadigers vrygelaat sonder dat hul DNS-profiele op die regering se databank geberg is. Die DNS-profiele sou die polisie in staat gestel het om hulle in die toekoms onmiddellik te identifiseer as hulle weer oortredings sou begaan.

Die konsepwet is opgestel voor 2018 om voorlopige wetgewing te vervang wat die neem van ernstige misdadigers se DNS-monsters met of sonder hul toestemming gemagtig het.

’n Afskrif van die konsepwet is anoniem aan Andrew Whitfield, DA-woordvoerder oor polisie, besorg.

Whitfield het sy kommer uitgespreek dat geen DNS-monsters van gevaarlike misdadigers geneem word voordat hulle ná hul vonnisse vrygelaat word nie.

Minister wil DNS van almal in SA in data­bank plaas .

Nou blyk dit die rede waarom Cele die konsepwet nooit by die parlement ingedien het nie, was dat hy eerder al sy energie gestort het in ’n ambisieuse plan wat dalk onuitvoerbaar en ongrondwetlik is: ’n wet wat alle Suid-Afrikaners kan verplig om wangmonsters aan die staat te verskaf sodat hul DNS-profiele in ’n bewaarbank gehou word. Dit sal die staat help om die eienaar van enige menslike weefsel op ’n misdaadtoneel te identifiseer.

Cele se plan sukkel egter om van die grond af te kom.

“Omdat dit ’n wet sal wees wat vir almal in die land geld, kan dit nie deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens ontwikkel word nie. Dit moet deur binnelandse sake gedoen word. Daarom het die minister van polisie aan binnelandse sake geskryf en gevra dat hulle dié wet moet ontwikkel,” het Cele Vrydag in die parlement gesê.

Terwyl hy drome gedroom het oor ’n verpligte nasionale DNS-databasis wat tans onwettig sal wees, het die polisie se vermoë om DNS-toetse te doen in duie gestort, met ’n agterstand van meer as 208 000, het Cele Vrydag erken.

En terwyl die konsepwet lê en stof vergader het, is meer as 47 000 misdadigers wat vonnisse vir ernstige bylae 8-misdade uitgedien het, vrygelaat sonder dat DNS-monsters van hulle geneem kon word.

Die Wet op Forensiese Prosedures, wat in Januarie 2015 in werking getree en in Januarie 2017 verval het, het dié misdadigers verplig om vóór hul vrylating wangmonsters aan die staat te gee. Die monsters is dan in ’n DNS-profielbank bewaar.

Maar sedert die wet verval het, word die wangmonsters van onder meer moordenaars, verkragters en huisrowers slegs geneem as hulle daartoe instem. Dit het op Cele se wagbeurt gebeur.

Die DA se Whitfield het Dinsdag in ’n debat oor die krisis in die SAPD met DNS-bewysstukke daarop gewys dat Chantel Mokoena, ’n vyfjarige kleuter in Rocklands, Gqeberha (Port Elizabeth), twee jaar gelede glo verkrag en vermoor is deur ’n man wat op borgtog vrygelaat is terwyl hy verhoorafwagtend was op verkragtingsaanklagte.

Ses weke later het Chantel se ma, Veronica Mokoena, en ander mense die vermeende moordenaar gekonfronteer. Mokoena het die man se penis probeer afsny. Dit is in ’n staatshospitaal geheg, waarna die man verdwyn het.

Nou is hy op vrye voet, terwyl Mokoena in hegtenis geneem en dadelik van haar baba weggeneem is. Sy is nou verhoorafwagtend. DNS wat op Chantel se lyk gevind is en sou bewys of die man die moordenaar was, is vandag nog onverwerk omdat die polisie se forensiese laboratorium nie geld het vir reagense en ander materiaal nie.

Cele het in Oktober verlede jaar aan die parlement belowe dat ’n tweeledige proses voortaan gevolg sal word. Die neem van wangmonsters van bylae 8-misdadigers sal hervat word terwyl die departement van binnelandse sake voortgaan met die plan om ’n databank met DNS-profiele van die hele land se 58 miljoen inwoners te vestig.

Cele se regsadviseur, adv. Dawn Bell, het in Oktober aan die portefeuljekomitee oor polisie gesê Cele oorweeg dit “om voort te gaan en ’n konsepwet aan die kabinet voor te lê sodat dit goedgekeur kan word vir indiening”.

Rapport wou Vrydag op die mediakonferensie oor die nuwe misdaadsyfers by Cele weet waarom die konsepwet nog nie by die parlement ingedien is nie en wanneer dit gaan gebeur.

Sy antwoord was taamlik onsamehangend: “Dit moet deur die binnelandse sake gedoen word. Daarom het die minister van polisie aan die binnelandse sake geskryf en gevra hulle moet die wet ontwikkel. Onlangs het ons ooreengekom dat ons weer die wangmonsters gaan begin neem.”

Hy is tevrede daarmee dat in 2017-’18, toe die oorgangswet van krag was en misdadigers verplig was om monsters te gee, groot getalle wangmonsters geneem is.

Whitfield is self nie seker of hy op die onderneming kan staatmaak wat Bell verlede jaar namens Cele aan die portefeuljekomitee gegee het nie.

“Die portefeuljekomitee het nog nie die lys van voorkeur-wetgewing van die polisie se regsafdeling gekry nie. As dit nie daarop is nie, sal ons in die DA dit oorweeg om die konsepwet in ons eie woorde te herskryf, ’n ander titel daaraan te gee en dit as ’n private wetsontwerp by die parlement in te dien,” sê hy.

¦ Kyk op netwerk24.com na die video waarin Cele antwoord.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Polisie  |  Konsepwet  |  Dns-Profiele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.