Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Klein Henco slaap 12 uur aaneen ná kapingsdrama
henco
Coenie en Alicia Lamprecht en hul baba, Henco, Maandag toe hulle veilig terug by die huis was nadat Henco vroeër die dag in sy ma se motor was toe dit gekaap is.

“Ons is oorweldig deur almal se liefde, mense na aan ons en ook wildvreemde mense wat help.”

So het Alicia Lamprecht (28) Dinsdagoggend gesê – ’n dag ná haar nagmerrie-ondervinding toe ’n man in Observatory in Kaapstad in haar motor gespring en daarmee weggejaag het terwyl haar sewe maande oue babaseuntjie, Henco, nog in die babastoeltjie was.

Henco het 12 uur aaneen geslaap, sê sy ma.

“Hy was nie heeltemal homself nie. Hy moes gister die angstige emosies aangevoel het.”

Die seuntjie het Maandagaand in sy ma se arms aan die slaap geraak. Daarna het Alicia en haar man, Coenie Lamprecht (25), by hom gelê om so naby as moontlik aan hom te wees.

Klein Henco Lamprecht Dinsdagoggend veilig in die huis pas nadat hy wakker geword het ná ’n lang slaap.

Lamprecht is intussen in kontak met die polisie oor die ondersoek.

Henco was Maandagoggend in sy ma se motor toe sy by ’n vriendin in Observatory stilgehou het om ’n pakkie af te lewer. Alicia en Lamprecht bak oor naweke spesiale gesondheidskoekies vir ma’s wat borsvoed en sy lewer dit deur die week af.

Hulle het albei in 2019 hul werk verloor en het ’n plan beraam om ’n inkomste te kry. Lamprecht, ’n elektriese tegnikus, het intussen werk gekry, maar hulle bak steeds die koekies om geldelik te oorleef.

Alicia het Maandag die oomblikke beskryf toe sy sien hoe met haar motor weggejaag word met Henco agterin.

Sy het net begin gil. Daarna was dit die een angstige oomblik op die ander.

Haar vriendin het ’n gewapende-reaksie-eenheid gebel en Alicia het saam met die sekerheidsbeampte in sy voertuig gespring toe hy by die huis stilhou.

’n Teer oomblik toe Coenie Lamprecht Maandag sy baba, Henco, terug in sy arms kry.

Hulle het die sein van ’n opsporingstelsel van haar motor gevolg, net om af te kom op ’n leë motor met Henco wat nie meer daarin is nie.

Henco is in Maitland deur die kaper, wat daarna vermoedelik ook ’n makker opgelaai het, met sy babastoeltjie en al uit die motor gegooi. ’n Vrou wat dit gesien het, het Henco te hulp gesnel en die polisie gebel.

Adri Lamprecht, ’n familielid van die Lamprechts en berader in die polisie, het Maandag soos talle ander mense ingespring en dadelik die Lamprechts bygestaan.

Alicia sê sy weet nie of die kaper iemand opgelaai het nie, want Henco is uit die motor gegooi terwyl dit beweeg het. Daar moes nog ’n persoon gewees het, sê sy.

Lamprecht het na die toneel gejaag waar Henco gekry is en nadat ’n paramedikus Henco ondersoek het, is hy aan Lamprecht oorhandig in ’n emosionele oomblik vir die jong pa.

Alicia sê sy het nou ’n klomp goed om te doen. Sy kan nie haar aflewerings doen nie en haar Volkswagen Polo se radio is gesteel. Haar beursie met al haar kaarte en ID-kaart is ook weg.

Die egpaar se ouers help hulle om net eers asem te skep. Alicia behoort aan ’n WhatsApp-groep waarop lede raad vra en wenke uitruil oor hoe om hul babas te versorg. Die ma’s van die groep het reeds ingespring en kos afgelewer en begin om geld in te samel vir ’n nuwe motorstoeltjie en om die Lamprecht-gesin te help.

Volgens Alicia deel hulle allerlei wenke op die groep, maar nooit sou sy kon dink dat een van die boodskappe op die groep sou wees dat haar baba gekaap is nie.

“Dit is ongelooflik hoe mense ons bystaan,” sê sy.

Intussen sê kol. Andè Traut, polisiewoordvoerder, die ondersoek duur voort. Daar is nog niemand in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Observatory  |  Coenie En Alicia Lamprecht  |  Misdaad  |  Kaping  |  Baba Henco
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.