Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Bende-eenheid moet veiligheid teruggee, sê Cyril

Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag met die bekendstelling van die bende-eenheid in Hanover Park op die Kaapse Vlakte gesê dat dié elite-eenheid uitgebrei gaan word na ander provinsies soos die Oos-Kaap en Gauteng, waar bendegeweld ook hoogty vier.

Pres. Cyril Ramaphosa, wat die hoofspreker was by die bekendstelling wat by die Downsberg-sportveld in Hanover Park gehou is, het aan inwoners gesê hy is jammer dat hulle so lank gevat het om op hul wekroepe om hulp te reageer.

Hy het gesê die stig van die eenheid was egter nie net in antwoord op die hulpkrete van Hanover Park se inwoners nie, maar ook in antwoord op die oproepe om hulp van ander inwoners op die Kaapse Vlakte en elders in die land.

Hy het gesê die tyd het aangebreek om vir bendes te sê dat hul tyd verby is.

Die bende-eenheid is in Hanover Park op die Kaapse Vlakte amptelik bekend gestel. Foto: Jaco Marais

“Ons kom vir julle. Ons is nie bang vir julle nie. Ons gaan julle vang en ver weg in tronke sit,” het Ramaphosa gesê.

Hy het gesê inwoners van Hanover Park en ander woonbuurte op die Kaapse Vlakte sal egter hul samewerking aan die polisie moet gee.

“Ons vra dat julle die polisie moet help. As julle inligting het wat die polisie kan help om bendelede te vang, gee dit vir die polisie,” het hy gevra.

Ramaphosa het gesê hy het geweet ’n moeilike taak lê voor vir Cele en sy adjunk toe hy hulle aangestel het, maar hy het vertroue in hulle en die mense om hulle. Ramaphosa het voor die bekendstelling in Hanover Park gaan rondloop.

Hier het hy met inwoners gepraat oor hul vrese en verwagtinge.

Hy het gesê ’n 16-jarige meisie het na hom gekom. Hy het haar gevra hoekom is sy nie in die skool nie. Sy het geantwoord sy het uit die skool gebly sodat sy self vir hom kan sê hoe onveilig en vreesbevange sy voel as sy soggens skool toe gaan. Sy is bang dat sy ontvoer en/of verkrag sal word. Sy is bang dat sy geskiet gaan word of ná skool nie lewendig by die huis sal uitkom nie.

Pres. Cyril Ramaphosa en Bheki Cele, polisieminister, was sprekers by die eenheid se amptelike bekendstelling.Foto: Jaco Marais

Hy het gesê hy het geweet dat hulle daadwerklik aan die probleem van bendes en bendegeweld aandag moet gee. Ramaphosa het gesê dis tyd om seker te maak dat vroue en jong meisies veilig moet wees in die strate van Suid-Afrika.

“Die bende-eenheid en sy lede moet deur die werk wat hulle doen, mense die veiligheid wat ons Grondwet ons belowe teruggee.”

Die eenheid bestaan volgens inligting uit uitgesoekte polisielede wat sigbare polisiëring gaan doen, speurders en lede van die taktiese reaksie-eenheid. Die polisielede gaan by 21 polisiekantore op die Kaapse Vlakte en elders in die Kaapse skiereiland werk.

Volgens die lede is die polisiekantore die “gang-polisiekantore.”

Cele het nie gesê wanneer die eenheid in die ander provinsies sal begin werk nie, maar het gesê dit sal beslis in die nabye toekoms wees.

Die eenheid bestaan uit lede wat sigbare polisiëring gaan doen, speurders en lede van die taktiese reaksie-eenheid.Foto: Jaco Marais
Die polisie se vaardighede is ten toon gestel.Foto: Jaco Marais
Die polisielede gaan werksaam wees by 21 polisiekantore op die Kaapse Vlakte en elders in die Kaapse skiereiland.Foto: Jaco Marais
Ons kom vir julle. Ons is nie bang vir julle nie. Ons gaan julle vang en ver weg in tronke sit.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Bende-Eenheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.