Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Betogers buit 1 000 TV’s uit vragmotor

“Ons vragmotorbestuurder was so bang, hy het weggehardloop toe die betogers op die vragmotor afstorm.”

So sê Amica Jordaan, mensehulpbronbestuurder van die vervoermaatskappy wie se vragmotor Donderdagoggend by De Doorns in die Wes-Kaap deur betogers geplunder is.

Die vragmotor, wat behoort aan die Buonadonna-groep van Hennenman in die Vrystaat, het ’n vrag met onder andere slimtelevisies vervoer toe dit tot stilstand gedwing is deur betogers wat die N1 by De Doorns versper het.

Die vragmotors wat slimtelevisies vervoer het, is Donderdagoggend by De Doorns in die Wes-Kaap leeggedra. Foto: Verskaf
Netwerk24 Foto: Verskaf

Jordaan, wie se pa die vervoermaatskappy besit, sê hul vragmotorbestuurder en minstens drie ander vragmotorbestuurders moes noodgedwonge stop omdat die pad deur die betogers versper is.

“Daar was minstens drie ander vragmotors wat voor hom in die pad stilgestaan het.”

Die betogers het twee van die vragmotors bestorm.

“Hulle het die seile van ons vragmotor oopgesny en die slimtelevisies weggedra. Daar was minstens ’n 1 000 slimtelevisies in die vragmotor,” sê Jordaan.

Op videos wat mense op die toneel op sosiale media gedeel het word gesien hoe bottels drank van 'n ander vragmotor afgesteel word.

Die betogers het daarna die Buonadonna-groep se vragmotor ook van binne gevandaliseer.

“Selfs die vragmotor se batterye is weggedra.”

Jordaan sê hulle het die nasporingsmaatskappy Capital Air Recovery Services, wat veiligheidsreaksiedienste aan hulle verskaf, ontbied wat terugvoer gegee het oor wat gebeur het.

Volgens personeel van die Capital Air Recover met wie Netwerk24 gepraat het, was die situasie so gespanne die polisie wat toe reeds op die toneel was moes wag vir die eenheid vir openbare orde (Pops) om op te daag.

Die polisie het die nasporingsmaatskappy om veiligheidsredes verbied om in te tree.

Die maatskappy is om kommentaar genader en dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Volgens ’n ooggetuie was daar sowat 300 mense wat die vragmotors leeggedra het.

Die polisie het daarna van die televisies by huise in die omliggende gebied teruggekry.

Teen 12:00 is 15 televisies teruggekry.

Die N1 was in albei rigtings gesluit en verkeer is herlei.

Sers. Noloyiso Rwexana, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig lede van Pops en ander wetstoepassers is ontbied.

“Twee vragmotors is besteel. Die polisie volg leidrade op oor wie die skuldiges is, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Volgens foto’s wat op die toneel geneem is het die ander vragmotor ook kosprodukte vervoer.

Die polisie het ook in ’n verklaring gesê sy lede gaan van huis tot huis op soek na die gesteelde goedere.

Die betogers is glo plaaswerkers wat betrokke is in ’n loongeskil en hulle het die pad vroegoggend reeds versper, sê gemeenskapslede.

Die Wes-Kaapse regering het in ’n verklaring die plundery van vragmotors ten sterkste veroordeel en sê daar was nog ’n voorval op die Robertsonpad in Worcester waar ’n vragmotor wat in ’n ongeluk betrokke was geplunder is.

Bonginkosi Madikizela, LUR vir vervoer en openbare werke, sê die soort misdaad gaan nie geduld word nie. “Ons wetstoepassers moet sorg dat die oortreders aangekeer en aangekla word. Ons verkeersbeamptes monitor ons paaie en verkeer word herlei om motoriste se veiligheid te verseker.”

Madikizela sê die vragmotorbedryf en die provinsiale verkeersdienste het in Oktober vergader en ooreengekom dat intensiewe operasies gaan plaasvind om te reageer op voorvalle op plekke waar die plundery van vragmotors gereeld voorkom.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid, sê die soort plundery kan die ekonomie lamlê en werkgeleenthede op die spel plaas.

Enigeen met meer inligting word gevra om Stop Misdaad by 08600 10111 te bel of ’n SMS na 322111 te stuur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.