Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Betogings in suide van Jhb: ‘Ons vrees vir ons lewe’

Die Johannesburg-metropolisie (JMPD) het teen 15:00 Vrydag gesê alles is onder beheer en die JMPD hou die situasie in die suide van Johannesburg dop waar daar grootskaalse betogings en skermutselinge tussen onwettige besetters en die permanente inwoners voorgekom het.

Die polisie en die Johannesburg-metropolisie was op die toneel van die protesoptogte in Ennerdale en moes skarebeheer toepas. Foto: Felix Dlangamandla

Die situasie was laat Vrydagmiddag kalm, maar inwoners van Ennerdale het toe gehoor dat die onwettige besetters Vrydagaand hul huise wil kom afbrand.

Melanie Block, ’n inwoner van Katzweg waar die groot oproer in Ennerdale was, sê die inwoners vrees vir hul lewe. In die omgewing van dié straat en die R558 is daar volgens Block sowat 1 000 onwettige sinkhuise.

“Ons het nie meer elektrisiteit nie. Dis so donker hier as ek in die oggend werk toe stap, ’n mens weet nie wie wag waar vir jou nie,” sê Block.

Die rede vir die gebrek aan krag is die besetters se onwettige verbindings, sê sy.

“Die huise waarop daar ’n verband is se waarde neem af en ons veiligheid word bedreig. Die huisbrake en gewapende rooftogte in die gebied het gestyg sedert die strukture voor ons huise opgerig is. Ons het ook talle pensioenarisse in die omgewing wat hulself nie kan verdedig nie en wat getraumatiseerd is,” sê sy.

Die gegriefde gemeenskappe van Johannesburg-Suid sal Saterdagoggend deur die LUR vir menslike nedersettings, samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) in Gauteng besoek word.

Lebogang Maile, die LUR, sê in ’n verklaring hy gaan hom op Lenasia-Suid toespits waar daar ook betoog is en die res van die program vir besoeke aan ander gebiede sal Saterdagoggend beskikbaar wees.

Lenasia-Suid is staatsgrond en behoort aan die provinsiale regering.

Die formele en informele gemeenskappe van Ennerdale baklei onder meer oor die basiese dienste wat onwettig deur die besetters gebruik word. Foto: Felix Dlangamandla

Vroeër is daar berig dat daar al minstens 100 000 onwettige sinkhuise in die suide van Johannesburg opgeskiet het.

Klippe het Vrydag vroegdag in Lenasia-Suid, Ennerdale, Kliprivier en Protea-Suid gevlieg en paaie is versper met protesoptogte wat plek-plek gewelddadig geraak het.

Inwoners van die baksteen- en sinkhuise in Ennerdale het Vrydag met mekaar slaags geraak oor onder meer basiese dienste. Die formele nedersetting wil hê die regering moet die onwettige sinkhuise verwyder. Foto: Felix Dlangamandla

Die besette grond by Ennerdale behoort na wat verneem word ook aan die provinsie.

Inwoners van die permanente nedersettings van die verskillende gebiede het in opstand gekom oor die onwettige sinkhuise van die besetters wat glo gratis van hul betaalde munisipale dienste gebruik maak.

Die betogings kom ook nadat die JMPD vroeër vandeesweek begin het om onwettige strukture in Lenasia-Suid af te breek.

“Ek sal die gemeenskap van Lenasia-Suid Saterdag besoek sodat ons ’n dieper begrip kan kry van hul kommer en eise,” sê Maile.

Die LUR het ook die gemeenskap gevra om kalm te bly en nie paaie te versper en buitebande te brand nie sodat die regering die kans kan kry om na hul pleidooie te luister.

Om 08:30 die oggend het ’n boodskap die ronde op gemeenskapsgroepe begin doen dat ouers hul kinders by die Odin Park Primary School, ’n laerskool in Ennerdale, moet gaan haal omdat die situasie rondom die skool weens die betogings onveilig is.

In video’s wat Netwerk24 bekom het, het inwoners melding gemaak van die Marikana-slagting en selfs slagtersmesse rondgeswaai. Daar was ook onbevestigde gerugte van ’n skietery en bakleiery waarin betogers en inwoners beseer is wat met mekaar haaks geraak het.

Die polisie se eenheid vir openbare orde en die JMPD was op die toneel en moes skarebeheer toepas.

Maile sê die provinsiale regering het “ ’n omvattende plan om die behuisingsagterstand in die provinsie te takel”.

“Ons pleit by ons gemeenskappe om op te hou om onwettige strukture op te rig.”

Inwoners pas Vrydag hul huise in Ennerdale op. Foto: Felix Dlangamandla

Meer oor:  Johannesburg  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.