Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Boer aangerand – én aangekeer

Shua Joubert, ’n boer van Mpumalanga, is glo voor polisiebeamptes aangerand toe hy ’n groep rouklaers by ’n “onregmatige begrafnis” op sy grond gekonfronteer het én net hy is daarna in hegtenis geneem.

“Ek het (verlede) Sondag in die Volksrust-polisiekantoor se selle geslaap. Maandagoggend het die aanklaer in die landdroshof geweier om die saak op die rol te plaas en dit teruggestuur na die polisie vir verdere ondersoek,” het Joubert gister aan Rapport gesê.

Volgens hom is nie een van sy beweerde aanranders in hegtenis geneem nie.

“Daar is ’n hangende grondeis op my ander plaas. Ek het geweier dat mense wat nie daar gewoon of gewerk het nie, op my plaas Transylvania begrawe word. Sondag het ek gehoor mense het deur ’n buurman se grond toegang tot my plaas verkry en toe ry ek om te gaan kyk,” vertel Joubert.

Hy sê die familie van die oorledene woon op sy ander plaas, Rooipoort (waarop die grondeis hangende is), maar die oorledene self het volgens hom nog nooit daar gewoon of gewerk nie.

Dié plaas is sowat 6 km van Transylvania, waar die mense die begrafnis wou hou. Grafte daar sou ’n grondeis kon help meebring.

Joubert het gewapen met ’n haelgeweer na Transylvania gery.

Die polisie het bietjie gehelp, maar die eintlike held was Scratch Masondo.

“Toe ek daar kom, het ek gesien daar is polisie op die toneel. Hoekom hulle daar was, het ek nie geweet nie, maar ek is só grootgemaak dat as ek die polisie iewers sien, voel ek veilig. Ek voel nou nie meer so nie.”

Joubert sê hy het uit sy bakkie geklim en is deur “meer as 50” rouklaers aangeval toe hy met ’n voormalige werknemer, Scratch Masondo, probeer praat het.

Rapport het ’n selfoonvideo van ’n deel van die voorval gesien.

“Daardie video was net die laaste deel. Die begin is nie afgeneem nie. Toe hulle my pak, het die mense probeer om my haelgeweer af te neem en ’n skoot het in die proses afgegaan.”

Volgens Joubert het Masondo hom probeer help. “Scratch en nog ’n man het probeer om my teen die mense te beskerm, maar hulle was net te veel.

“Die polisie het ’n bietjie gehelp om my veilig op die bakkie te kry, maar die eintlike held was Scratch.”

Ná afloop van die beweerde aanranding het die polisie Joubert in hegtenis geneem omdat hy “ ’n skoot in die openbaar” geskiet het.

“Dié ‘openbaar’ is my private grond. Daar is oral op die plaas bordjies wat waarsku toegang word slegs op afspraak toegelaat. Die begrafnis was onwettig, die mense het onwettig my eiendom betree én my toe aangerand. Toe word net ek aangekeer. Hoe is dit moontlik?”

Joubert het in die selle geslaap nadat hy glo deur rouklaers van ’n “onregmatige begrafnis” aangerand is. Foto: Facebook

Joubert sê hy het verskeie kneusplekke oral oor sy lyf opgedoen. Rapport het sy doktersverslag onder oë gehad.

“My selfoon en hoed is weg en my bril het gebreek in die aanranding, maar dit lyk darem asof ek nie blywende skade het nie.

“Maandag het ons landdroshof toe gegaan. Ek hoef nie eens in die beskuldigdebank te geklim het nie. Die aanklaer het geweier om die saak op die rol te plaas en dit terugverwys na die polisie vir verdere ondersoek.”

Masondo het gister gesê Joubert is deur ’n menigte oorval.

“Toe die mense hom vang, het die geweer op die grond geval en ’n skoot het afgegaan. Die geweer was nie in daardie kind se hand toe die skoot geskiet is nie.”

Monica Nyuswa, die nasionale vervolgingsgesag se woordvoerder vir Mpumalanga, het Saterdag die voorval bevestig.

“Die klag was poging tot moord, maar die saak is weens onvoldoende bewyse gestuur vir verdere ondersoek. Daarna sal dit weer aan die hof voorgelê word vir ’n beslissing.”

Meer oor:  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.