Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Chaos ná mesaanval op vergadering van raad

Die bloed het letterlik Woensdagmiddag gevloei toe oproeriges die munisipale raadsaal in Vryburg, Noordwes, binnestorm en onder andere die speaker met ’n mes gesteek en hom met die gespe van ’n gordel stukkend geslaan het.

Cliffton Groep, speaker van die Naledi-munisipaliteit wat die gebied bedien, moes steke in die meswond op sy kop kry. Die oproeriges het die deure toegemaak sodat niemand kon uit nie. Neo Schalk, burgemeester, het ook net-net ’n diep meswond vrygespring toe die aanvaller hom in die rug wou steek, maar die mes gegly het. Volgens Groep het die mes deur Schalk se baadjie en hemp gedring en hom skrams gewond. Die aanvaller het homself blykbaar met die mes raakgesny toe dit gly.

Karabo Tauwe, nog ’n ANC-raadslid wat onlangs ’n operasie ondergaan het, is oor die kop geslaan en in die plaaslike hospitaal opgeneem.

Volgens Groep het die aanvallers hulle hoofsaaklik met die vuiste en gordelgespes getakel. Een raadslid het glo oop wonde opgedoen weens die gordelhoue.

“Ons het sake van aanranding met die doel om ernstig te beseer by die polisie ingedien,” het Groep Donderdagoggend gesê.

Die polisie moes raadslede laatmiddag uit die gebou na veiligheid begelei. Intussen was werknemers van die munisipaliteit, onder andere Kgomotso Mmusi, woordvoerder, te bang om Donderdag terug te keer werk toe. Mmusi sê lede van die vakbond Samwu, wat glo vir die aanval op raadslede verantwoordelik was, “stel onredelike eise” dat hulle vaste aanstellings by die munisipaliteit moet kry.

“Ons het reeds oor die kwessie onderhandel. Hulle weet die munisipaliteit het nie nou geld om die kontrakwerkers vas aan te stel nie.”

Cliffton Groep, speaker in die Naledi-munisipaliteit wat Vryburg bedien. Oproeriges wat Woensdag ’n raadsvergadering ontwrig het, het hom met ’n mes in die kop gesteek.
Die messteekwond in Cliffton Groep se kop waarin hy steke moes kry. Foto: Verskaf

Volgens Mmusi is die sowat 70 kontrakwerkers meestal skoonmakers en werkers op paaie.

John Adonis, DA-raadslid, asook sommige ANC-raadslede, vermoed sterk die aanval was goed georkestreer om ’n stokkie te probeer steek voor ’n ondersoek na beweerde ongerymdhede en wanbestuur in die kantoor van Tshepo Bloom, die munisipale bestuurder. ’n ANC-raadslid wat ten gunste is van dié ondersoek, sê hy het gesien hoe van die ANC-raadslede die raadsaal saam met die oproeriges verlaat.

“Ons vermoed van die ANC-raadslede is ook teen die ondersoek gekant en kop in een mus met die oproeriges. Van die oproermakers was beslis nie munisipale werkers nie, maar tsotsi’s van die straat af.”

Adonis dink die oproermakers wou die vergadering eintlik ontwrig voordat die punt oor die ondersoek voor die raad gedien het.

“Indien die punt nie Woensdag bespreek is nie, sou die hele proses verval het omdat dit binne ’n sekere tydsraamwerk moet verloop.”

Hulle was egter te laat met hul ontwrigting. Die raad het Woensdag op grond van die resultate van die voorlopige ondersoek besluit Bloom moet aan ’n tugverhoor onderwerp word. Hy is reeds sowat drie maande hangende die ondersoek geskors. Bloom sê hy is onskuldig, maar wou nie verder uitbrei nie omdat die saak nog sub judice is.

Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder in Noordwes, het bevestig Groep en Schalk het aanklagte aanhangig gemaak.

“Die polisie ondersoek die saak. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Samwu reageer
Vincent Diphoko, Samwu se sekretaris in Noordwes, het gesê die vakbond keur nie sy lede se optrede goed nie. “Hulle het egter rede om omgekrap te wees omdat hulle tot hierdie punt gedryf is deur ‘n munisipaliteit wat nie na hulle luister nie. Daar is arbitrasiebevindings in hul guns gemaak om vas aangestel te word, maar dit gebeur nie. Die munisipaliteit moet nou hierdie probleem oplos.”

Meer oor:  Vryburg  |  Messteek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.