Met besoeke aan gemeenskappe in Pretoria en Ekurhuleni het pres. Cyril Ramaphosa Vrydag ’n beroep op mense gedoen om saam te staan teen xenofobie en gendergeweld.

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydag Katlehong aan die Oos-Rand besoek om sy stem dik te maak teen geslagsgegronde geweld. Agter hom is David Makhura, Gautengse premier, en Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC. Foto: Bonolo Selebano
Netwerk24Foto: Bonolo Selebano
Ramaphosa – vergesel van Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, en Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC – het eerste besoek afgelê in Soshanguve, Pretoria, by die huis van Jabu Baloyi.
Baloyi, ’n taxibestuurder, is einde Augustus in die Pretoriase middestad doodgeskiet in ’n onderonsie met vermeende dwelmbase. Dit het gelei tot wydverspreide geweld teen buitelandse winkeleienaars, wat later oorgespoel het na Johannesburg.
Ramaphosa het gesê Baloyi se dood moet as ’n simbool van eenheid teen die plaag van dwelms in Suid-Afrika gesien word, maar hy het die gemeenskap ook aangemoedig om saam met die regering teen xenofobie te veg.
“Die taxivereniging het dit baie duidelik gemaak dat hy teen die aanvalle op buitelanders gekant is, wat ook die regering se standpunt is.”
Hlamalani Baloyi, Jabu se suster, het gesê hulle waardeer Ramaphosa se besoek en het haar broer as ’n held beskryf. “Ons sal hom nooit terugkry nie, maar hy is vir ’n goeie saak dood en ons is trots op hom.”
Daarna was Ramaphosa en sy gevolg in Katlehong, Ekurhuleni, wat verlede week onder geweld deurgeloop het.
Hier het Ramaphosa gefokus op geweld teen vroue en ’n beroep op die mans van Katlehong gedoen om sterk standpunt in te neem teen gendergeweld. “Ons as dapper mans moet ’n belofte maak dat ons geslagsgegronde geweld gaan stopsit, dat ons ’n einde gaan maak aan verkragting en dat ons in vrede langs mekaar gaan woon.”

Pres. Cyril Ramaphosa en ’n afvaardiging van die ANC se nasionale uitvoerende komitee Vrydag in Soshanguve, Pretoria, by die huis van die vermoorde taxibestuurder Jabu Baloyi. By hom is Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, en Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal. Foto: Bonolo Selebano
Netwerk24Foto: Bonolo Selebano