Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kyk: Dawnpark nou ook deel van statistieke
Die gekaapte voertuig staan sonder ’n nommerplaat in die middel van ’n straat in Fourways, Johannesburg. Die skote het hier geklap ná ’n huisrooftog vroeër in Honeydew. Foto: Verskaf

Terwyl die parlement Dinsdag gehoor het dat transitorooftogte veral in Gauteng toegeneem het, het rowers weer op ’n geldwa in die provinsie toegeslaan.

Die aanval was hierdie keer in Dawnpark, Boksburg, ’n gebied waar daar die afgelope agt jaar – sedert die 2009-’10-boekjaar – geen transitorooftog aangemeld is nie.

Landwyd het dié soort misdaad met 56,6% toegeneem vanaf 152 voorvalle in die vorige boekjaar tot 238 in die afgelope boekjaar.

Gauteng is tans die voorloper nadat transitorooftogte in die provinsie met 142,4% toegeneem het – van 33 voorvalle in 2016’-17 tot 80 in 2017’-18.

Volgens dié statistieke was Dawnpark se rekord skoon – tot Dinsdag.

Kol. Brenda Muridili, ’n nasionale polisiewoordvoerder, sê twee geldwagte het om 08:20 kontant by ’n winkel in ’n sentrum gaan oplaai.

Hulle het met die geldtrommels na die wagtende geldwa buite die sentrum gestap toe drie gewapende mans hulle voorgekeer en met vuurwapens gedreig het. Hull het die geldhouers gevat en na ’n wit VW Jetta gehardloop,” sê Muridili.

’n Skietgeveg het toe uitgebreek.

Polisielede deursoek die gekaapte voertuig waarmee die rowers gevlug het. Foto: Judith Silomo

’n Video wat ’n omstander geneem het wys hoe mense koes terwyl die skote klap.

Die rowers het die geld in die Jetta gelaai en weggejaag.

Muridili sê niemand is in die voorval beseer nie.

In ’n ander voorval enkele ure later is vier vermeende huisrowers ná ’n wilde jaagtog en skietery in Fourways, Johannesburg, aangekeer.

Hulle het na bewering ’n huis in Honeydew beroof, ’n gebied waar “roof met verswarende omstandighede van ’n residensiële perseel” sedert die vorige boekjaar met 6,8% gestyg het. Luidens die jongste misdaadsyfers was daar in die afgelope boekjaar 23 meer huisrooftogte in Honeydew, in Johannesburg-wes, as die vorige boekjaar se 337 voorvalle.

Die gekaapte voertuig waarmee die rowers gevlug het. Foto: Judith Silomo

Die polisie het in Fourways, Johannesburg, op die vermeende huisrowers toegesak. Motoriste en voetgangers in die omgewing van Leslielaan en William Nicol-rylaan het inderhaas skuiling gesoek toe die skote klap.

Adiel Alexander sê hy het omstreeks 11:00 by ’n verkeerslig naby Montecasino stilgehou toe die skote klap.

Van waar hy agter sy kar se stuurwiel gekoes het, het dit vir hom gelyk asof ’n veiligheidswag in die been getref is.

Kapt. Kay Makhubela, Gautengse provinsiale polisiewoordvoerder, het op die toneel gesê die polisie het Dinsdagoggend inligting oor ’n huisrooftog in Honeydew ontvang.

Die verdagte voertuig is gewaar toe dit in die rigting van Fourways gery het en verskeie eenhede van die Alexandra-polisiekantoor, die Pretoriase honde-eenheid, lede van die Valke en die Johannesburgse lugvleuel het op dié inligting gereageer.

Die voertuig waarin die rowers was, het uit William Nicol-rylaan in Leslielaan ingedraai en die rowers het stilgehou en probeer om die nommerplaat te verwyder.

’n Verdagte word in ’n polisievoertuig gelaai. Foto: Judith Silomo

Dit was hier waar die polisie hulle vasgekeer het.

“Die verdagtes het op die polisie geskiet, wat toe teruggeskiet het. Twee van die vier verdagtes is gewond. Die ander twee is ook aangekeer,” sê Makhubela.

Die twee beseerdes is na ’n hospitaal gebring.

Makhubela kon in daardie stadium nie veel uitwei oor die Honeydew-huisrooftog waar alles begin het nie, maar het gesê dit vorm deel van die ondersoek.

Die polisie het vasgestel dat die vermeende rowers se voertuig onlangs in Alexandra gekaap is.

Ooggetuies het aan Murray Louw vertel dat skote ook uit die polisiehelikopter geskiet is.

Ooggetuies het vertel dat die veiligheidswag wat in die skietery gewond is by ’n vrugteverkoper gestaan het toe hy getref is.

Hy is na ’n hospitaal gebring. Sy naam is nie bekend nie.

* Luidens die jongste misdaadstatistieke het roof met verswarende omstandighede afgeneem in Gauteng. Daar is 53 793 voorvalle in die vorige boekjaar aangemeld. Dit het met 3,9% tot 51 706 in die afgelope boekjaar gedaal.

Motorkapings het met 4% afgeneem van 8 610 tot 8 269 voorvalle.

Huisrooftogte in die provinsie het van 8 731 tot 8 333 voorvalle gedaal.

Dertien van die land se 30 polisiekantore waar die meeste misdade aangemeld is, is in Gauteng – die meeste in die groter Johannesburg- en Pretoria-omgewing.

Meer oor:  Boksburg  |  Gauteng  |  Parlement  |  Statistieke  |  Transitoroof  |  Rooftogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.